SALDANHA – Onwettige drank ter waarde van sowat R420 000 is Maandag 3 Augustus tydens ’n intelligensiegedrewe operasie in die Saldanha-omgewing gekonfiskeer.
Dit volg op die hakke van die inhegtenisname van elf buitelanders voorverlede naweek (Saterdag 25 Julie) naby die Saldanha-hawe vir die beweerde vervalsing van ‘n verskeidenheid van huishoudelike kos- en medisinale items.

Volgens konstabel Ndakhe Gwala, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het die provinsiale span vir vervalste en onwettige goedere, in samewerking met die Wes-Kaapse Drankraad en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se Doeane-eenheid, die operasie uitgevoer.
“Verskeie handelsmerke onwettige drank, asook ’n onbekende bedrag kontant, is tydens die operasie gevind en beslag is daarop gelê,” het Gwala gesê.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die omstandighede rondom die saak word steeds ondersoek.
Die Wes-Kaapse polisie het die verkoop en verspreiding van onwettige drank veroordeel en doen ’n beroep op gemeenskappe om onwettige drankverkope aan te meld. “Onwettige drankverkope hou ’n ernstige bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomiese stabiliteit en verbruikersveiligheid in,” het Gwala gesê.
Die provinsiale polisie het nie gesê by watter onderneming die vals drank gekry is nie.




You must be logged in to post a comment.