SALDANHA – Die sakegebou met verskeie ondernemings wat Dinsdag 4 Augustus kort ná 07:00 in Saldanhaweg aan die brand was, het spookagtig gelyk in die digte mis wat die omgewing dié oggend omhul het.
Nadat brandweerbeamptes van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) die meeste vlamme geblus het, het die rook nog vir ‘n lang tyd uit die vernietigde dak geborrel. Dit kon vir kilometers ver geruik word.

Altesaam drie winkels is in die brand vernietig, waarvan een voorverlede Saterdag (25 Julie) deur die polisie en ander instansies gesluit is ná die inhegtenisname van ‘n groep buitelanders weens die vervalsing van die etikette van verskeie kos- en medisinale produkte.
Die supermark op die gebou se hoek, die hoek naaste aan die Absa-gebou, is geheel en al vernietig. Daar word bespiegel dat die brand dalk in dié deel van die gebou ontstaan het.
Die eienaars van die klerewinkel langs- aan is verhoed om die brandende gebou binne te gaan. Hulle wou red wat te redde was en kon dit eers doen nadat die vlamme geblus is. Dit was hartseer om te sien hoe hulle nat klere en besmeerde winkelpoppe vrag vir vrag op ‘n bakkie laai en wegry.

Dit het nie gelyk of daar enigiets in die derde winkel – wat deur die polisie en ander instansies gesluit is – was nie.
Volgens Carol Feris, rampbestuurshoof by SBM, was brandbestryders verheug oor 30 botteltjies water wat die plaaslike BP-vulstasie vir hulle geskenk het, midde in die operasie.
Volgens Tereza Burger, woordvoerder vir SBM, het hul brand- en reddingsdienste om 07:25 ‘n oproep oor ‘n struktuurbrand in Saldanha ontvang. “Brandbestryders is onmiddellik na die toneel gestuur, waar spanne gewerk het om die brand in bedwang te bring en te blus.”
Die skof aan diens is deur brandweerpersoneel op bystand bygestaan, asook deur die inkomende skof, met altesaam 12 brandbestryders wat aan dié operasie deelgeneem het. Altesaam vier bystandbrandbestryders het later die uitgaande bemanning afgelos.

Die brandbestryders het die brand teen 10:07 geblus en was teen 11:15 klaar op die toneel. Altesaam ses beamptes van die munisipale polisie en wetstoepassing het met padsluitings gehelp en om die skare te beheer.
Volgens Burger is geen beserings aangemeld nie en die oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie.
Omstanders by die brand het beweer dat hulle vroeër die oggend, toe dit nog donker was, twee mans om die gebou sien “rondhang” het.

Kapt. Tania Helfrich van die Weskuspolisie het bevestig dat een van die winkels wat verlede week Dinsdag afgebrand het deur die polisie gesluit is. Sy sê daar is tans geen aanduiding dat die brand verband hou met dié ondersoek na die beweerde heretikettering van huishoudelike voedsel- en medisinale produkte nie. Dié ondersoek duur voort. Helfrich het voorts gesê geen verdere verdagtes is sedert die inhegtenisnemings op Saterdag 25 Julie aangekeer nie. Die getal verdagtes bly elf.
Mohamad Naeem, Mussah Winson, Wizy Alli, Rajabu Muli, James Ahobi, Yassine Osiman, Zolesan Hassan, River Chimwemwe, Bakali Palisan, Bedza Ibahume en Jehad Hassen Bosiye is by ‘n gebou in Kreefstraat in hegtenis geneem. Hulle het reeds in die Vredenburg-landdroshof verskyn, met hul volgende verskyning op Woensdag 12 Augustus. Hulle word aangehou.

Volgens Helfrich word ‘n derde perseel by die ondersoek betrek, terwyl daar nog op die uitslae van die ondersoek na die produkte waarop beslag gelê is, gewag word.






You must be logged in to post a comment.