ELANDSBAAI – Die Cederberg-munisipaliteit het die ondertekening van ‘n Memorandum van Ooreenkoms, vir die tussentydse bestuur van die Elandsbaai-sleephelling en verwante hawegeriewe, verwelkom en sê die munisipaliteit gaan onmiddelik met befondsingsaansoeke begin om die hawe te ontwikkel.
Die ooreenkoms is Dinsdag 4 Augustus met Dean Macpherson, die nasionale Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, tydens ‘n geleentheid in die dorp onderteken.
Macpherson is vergesel deur Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur, Ivan Meyer, die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme en Azrial Scheepers, die Uitvoerende Burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit.
Die ooreenkoms sal die munisipaliteit in staat stel om die geriewe te onderhou en goedgekeurde herstelwerk uit te voer ter ondersteuning van die plaaslike vissersgemeenskap en verskeie sakeondernemings.

Volgens Scheeperswas dit die oorhandiging van ‘n openbare bate én die vier van hoop.
“Ons vier vennootskap. Ons vier die krag van samewerking tussen regering en gemeenskap. En ons vier die geloof dat, wanneer ons saamwerk, ons die toekoms van ons mense kan verander.”
Hy glo dit is vir die inwoners van Elandsbaai nie sommer net nog ‘n amptelike geleentheid nie.
“Hierdie dag is die vrug van jare se geduld, deursettingsvermoë en volgehoue samewerking.
Van die begin van hierdie Raad se termyn af het ons die munisipale bestuurder opdrag gegee dat ‘n volledige sakeplan vir die rehabilitasie van die sleephelling opgestel word, terwyl daar terselfdertyd met nasionale departemente, staatsinstellings en moontlike befondsers geskakel is om die nodige ondersteuning te bekom.
“Ons het egter besef dat ware ekonomiese ontwikkeling méér vereis as slegs ‘n sleephelling.
Daarom is die ontwikkeling van ‘n visverwerkingsaanleg en vismark ook voorgestel.
Só sal plaaslike vissers nie net veiliger kan werk nie, maar ook meer waarde uit hul produkte kan skep, nuwe ondernemings kan ontwikkel en meer werksgeleenthede in Elandsbaai kan vestig.”
Volgens Scheepers beoog die munisipaliteit om ‘n moderne, geïntegreerde vissery-ekonomie te ontwikkel wat vir geslagte lank ekonomiese groei en volhoubare bestaansmiddele sal verseker.
“Ons munisipale bestuurder het onophoudelik befondsingsgeleenthede nagejaag by die Nasionale Regering, Transnet, ontwikkelingsvennote en die private sektor.
“Daardie vasberadenheid het ons vandag tot hierdie belangrike mylpaal gebring. Die voorlopige kosteberaming toon dat ongeveer R4-miljoen benodig word vir die rehabilitasie van die sleephelling en ‘n verdere R2-miljoen vir die opgradering van die visverwerkingsaanleg en vismark.”
Cederberg beoog nou om ‘n projekkomitee vir ‘n Elandsbaai Vissery-infrastruktuur te vorm, waarin alle sleutelrolspelers verteenwoordig sal wees en volgens Scheepers is dit die begin van ‘n nuwe hoofstuk.
“Die mense van Elandsbaai sien nou uit na die mobilisering van befondsing, die rehabilitasie van die fasiliteite en die ontsluiting van nuwe ekonomiese geleenthede.”
Hy meen die projek gaan vir die gemeenskap oor meer as beton en staal. “Dit gaan oor veiligheid, waardigheid, werk, voedselsekerheid, en dit gaan oor ekonomiese insluiting en hoop.”
“Dit was die dag waarop Elandsbaai die gety laat draai het,” sê Scheepers.






You must be logged in to post a comment.