ELANDSBAAI – Die tussentydse bestuur van die Elandsbaai-sleephelling en verwante hawegeriewe is Dinsdag 4 Augustus deur Dean Macpherson, die nasionale minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, aan die Cederberg-munisipaliteit oorhandig.
Macpherson is vergesel deur Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van Infrastruktuur, Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, en Azrial Scheepers, die uitvoerende burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit.
’n Memorandum van Ooreenkoms is tydens ’n geleentheid in die dorp se gemeenskapsaal onderteken, wat die tussentydse bestuursverantwoordelikheid vir die helling en verwante hawegeriewe aan Cederberg toeken. Dit sal die munisipaliteit in staat stel om die geriewe te onderhou en goedgekeurde herstelwerk uit te voer ter ondersteuning van die plaaslike vissersgemeenskap en verskeie sakeondernemings.
Die geleentheid is ook bygewoon deur plaaslike vissers, sakelui en gemeenskapslede.
Volgens ’n mediaverklaring wat aan Weslander gestuur is, sal die getekende ooreenkoms verhoed dat die Cederberg-munisipaliteit huur, fooie of enige ander heffings van plaaslike vissers en sakeondernemings hef vir die gebruik van die Elandsbaai-sleephelling en verwante hawegeriewe.
Ingevolge die ooreenkoms sal die munisipaliteit verantwoordelik wees vir die bestuur, beveiliging en instandhouding van die geriewe, asook die gepaardgaande bedryfs- en nutskoste.
Volgens Macpherson doen die ooreenkoms gestand aan ’n belofte wat hy in Januarie aan die gemeenskap gemaak het en lê dit die grondslag om die Elandsbaai-hawe te ontwikkel tot die “Waterfront van die Weskus”.
“Die ooreenkoms plaas die tussentydse bestuur van die sleephelling, golfbreker en openbare bootlanseerplek, die ou kreeffabriek, die aangrensende steier en twee aangrensende grondgedeeltes vir nege jaar en elf maande onder die munisipaliteit se beheer. Die geriewe is bedoel om die lansering en vasmeer van bote, visverwerking en ander verwante aktiwiteite te ondersteun, ten bate van die plaaslike visserygemeenskap en sakeondernemings.”
Die minister het gesê plaaslike vissers en klein sakeondernemings behoort openbare geriewe te kan gebruik om ’n inkomste te verdien en hul gesinne te onderhou, sonder die las van huur, fooie of ander heffings.
“Met hierdie ooreenkoms het ons daardie beskerming verseker, terwyl die verantwoordelikheid vir die bestuur, sekuriteit en instandhouding van die fasiliteite by die munisipaliteit berus,” het Macpherson gesê.
“Vir te lank is staatsbates toegelaat om te verval of onderbenut te bly, terwyl gemeenskappe gewag het dat die regering optree. Hierdie ooreenkoms wys hoe ’n ander benadering tot Openbare Werke en Infrastruktuur lyk.
“Dit is ’n departement wat struikelblokke uit die weg ruim, die openbare belang beskerm en met munisipaliteite saamwerk om ekonomiese aktiwiteite te ontsluit en werksgeleenthede te skep.
“Enige veranderinge of verbeterings aan die fasiliteite sal vooraf die departement se skriftelike goedkeuring vereis en aan toepaslike wetgewing moet voldoen. Die reëling is uitsluitlik vir tussentydse bedryfsbestuur en behels nie ’n verkoop, huurkontrak, vervreemding of permanente oordrag van die eiendom nie.”
Volgens die minister is die ooreenkoms die eerste praktiese stap in die rigting van die waterfront-visie deur “gratis toegang vir plaaslike vissers en KMMO’s te verseker, die bestuur en instandhouding van die fasiliteite te verbeter, en die grondslag te lê vir toekomstige beleggings en ekonomiese groei”.





