Nog sardyne het op die strand uitgespoel terwyl navorsers ondersoek instel na die omvang en moontlike oorsake van die ongewone mariene verskynsel. Foto: Pete Oxford
Nog sardyne het op die strand uitgespoel terwyl navorsers ondersoek instel na die omvang en moontlike oorsake van die ongewone mariene verskynsel. Foto: Pete Oxford

Wydverspreide sardynvrektes steeds onder die loep

Nog sardyne het op die strand uitgespoel terwyl navorsers ondersoek instel na die omvang en moontlike oorsake van die ongewone mariene verskynsel. Foto: Pete Oxford
Nog sardyne het op die strand uitgespoel terwyl navorsers ondersoek instel na die omvang en moontlike oorsake van die ongewone mariene verskynsel. Foto: Pete Oxford

WESKUS – Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing ondersoek steeds die oorsaak van wydverspreide sardynvrektes langs die Wes-Kaapse kus, terwyl nuwe berigte van uitgespoelde vis en ander seelewe steeds inkom.

Die departement het vroeër bevestig dat die verskynsel voorkom vanaf Saldanha aan die Weskus tot by Gansbaai in die Overberg. Benewens sardyne wat op strande uitspoel, is dooie en sterwende vis ook tot agt seemyl vanaf Houtbaai op die see waargeneem.

Foto’s, video’s en verslae van vissers en lede van die publiek is aan die departement gestuur om die ondersoek te ondersteun.

'n Naby-skoot van uitgespoelde sardyne op die strand.
‘n Naby-skoot van uitgespoelde sardyne op die strand. Die publiek word versoek om nie dooie vis te hanteer of te eet voordat die oorsaak van die vrektes vasgestel is nie. Foto: Pete Oxford

Die eerste vismonsters, wat die afgelope naweek naby Saldanha deur die vissersboot Shivon versamel is, is reeds getoets, terwyl navorsers voortgaan om die moontlike oorsake en omvang van die vrektes te bepaal. Teen druktyd het die departement nog geen verdere inligting oor die uitslae of moontlike oorsaak bekend gemaak nie.

‘n Skadelike algebloei wat tans in die Saldanhabaai-gebied voorkom, word as een van verskeie moontlike oorsake ondersoek. Omgewingsfaktore, vissiektes en gifstowwe word egter ook in die ondersoek oorweeg.

Intussen is groot hoeveelhede planktonkrefies (krill) die afgelope paar dae op strande by St. Helenabaai aangetref. Video’s en foto’s wys hoe seemeeue op die uitgespoelde kril toesak. Dit is nog onbekend of dié verskynsel met die sardynvrektes verband hou.

Dooie sardyne lê op die strand nadat dit uitgespoel het.
Dooie sardyne lê op die strand nadat dit uitgespoel het. Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing ondersoek steeds die oorsaak van die wydverspreide vrektes langs die Wes-Kaapse kus. Foto: Pete Oxford

Weslander het ook foto’s ontvang van sardyne wat op Silversands-strand in Bettiesbaai uitgespoel het. Die foto’s is deur inwoner Pete Oxford geneem en dui daarop dat die verskynsel oor ‘n groot deel van die Wes-Kaapse kus voorkom.

Die departement versoek die publiek om nie dooie vis op strande of in die see te hanteer of te eet nie, totdat die oorsaak van die vrektes vasgestel is. Navorsers doen steeds ondersoek na die ongewone mariene verskynsel.

Uitgespoelde sardyne lê tussen seegras en sand.
Uitgespoelde sardyne lê tussen seegras en sand. Skadelike algebloei, omgewingsfaktore, vissiektes en gifstowwe word as moontlike oorsake ondersoek. Foto: Pete Oxford
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 July 2026
    Weslander E-Edition – 30 July 2026

Gift this article