Berigte en waarnemings van wydverspreide sardynvrektes langs verskeie dele van die Wes-Kaapse kus word tans deur die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing ondersoek.
Volgens ‘n mediaverklaring wat gister (2 Augustus) deur die departement uitgereik is, kom dit blykbaar voor vanaf Saldanha in die Weskus tot by Gansbaai in die Overbergstreek.
Die departement sê verslae is ontvang van vis wat uitspoel, terwyl dooie en sterwende sardyne wat op die see ronddryf, tot agt seemyle vanaf Houtbaai opgemerk is.

Die departement het foto’s, video’s en verslae van vissers en lede van die publiek daaroor ontvang.
Die eerste vismonsters is die afgelope Saterdag deur ‘n vissersboot, die Shivon, naby Saldanha versamel, en aan beamptes van die departement oorhandig. Dit word vandag getoets.
Navorsers is ook ontplooi om die moontlike oorsake vir die vrektes, en die omvang daarvan, te ondersoek.

‘n Skadelike algebloei kom tans in die Saldanhabaai-gebied voor, maar volgens die departement is dit te vroeg om te bepaal of dít die oorsaak vir die sardynvrektes is.
Verskeie ander moontlike oorsake, soos omgewingsfaktore, vissiektes en gifstowwe, word ook ondersoek.
Die publiek word versoek om nie dooie vis op strande of wat op die see dryf, te hanteer óf te eet nie.







You must be logged in to post a comment.