David Mahlobo (middel), adjunkminister van Water en Sanitasie, saam met Ezrial Scheepers (regs), burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, en Francois Kamfer, skadu-LUR vir maatskaplike ontwikkeling, plaaslike regering en infrastruktuur, tydens ‘n besoek aan die Clanwilliamdam se walverhogingsprojek.

Mahlobo tevrede met vordering by Clanwilliamdam

David Mahlobo (middel), adjunkminister van Water en Sanitasie, saam met Ezrial Scheepers (regs), burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, en Francois Kamfer, skadu-LUR vir maatskaplike ontwikkeling, plaaslike regering en infrastruktuur, tydens ‘n besoek aan die Clanwilliamdam se walverhogingsprojek.

Lise Beyers

Die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo, sê hy is tevrede met die vordering van die Clanwilliamdam se walverhogingsprojek, wat na verwagting teen 2028 voltooi sal wees.

Mahlobo het verlede week die bouperseel in die Cederberg besoek, waar hy gesê het die R8 miljard-projek is goed op dreef ondanks jare se vertragings.

Tydens die besoek het hy kennis geneem van verskeie mylpale wat reeds bereik is, waaronder noodwerk aan die kofferdam, die voltooiing van die onderste gedeelte van die oorloop en die afbreek van dele van die ou damwal.

Byna 22 000 m³ beton is reeds vir die nuwe damwal gegiet, terwyl boor- en voegwerk aan die fondasie goed vorder. Uitgrawings vir die kofferdam is vroeër vanjaar hervat nadat swaar winterreën die projek in 2025 vertraag het.

“Ek is baie tevrede. Dit is nie ‘n maklike projek nie, maar die span wat hier werk, het baie ervaring. Dit is ‘n voordeel dat die staat oor die kundigheid beskik om sulke groot infrastruktuurprojekte uit te voer,” het Mahlobo gesê.

Hy het bygevoeg dat die watervoorsiening aan huishoudings en landbougebruikers tydens die bouwerk gehandhaaf is en dat daar geen berigte van produksieverliese of werksverliese in die streek was nie.

Die projek het ‘n moeilike geskiedenis. Reeds in 2007 het veiligheidsondersoeke getoon dat die damwal verhoog en die fondasie versterk moet word om aan moderne veiligheidsvereistes te voldoen. Hoewel ‘n uitvoerbaarheidstudie reeds in 2008 voltooi is, het bouwerk eers in 2018 begin.

Teen 2021 het die projek feitlik tot stilstand gekom weens finansiële uitdagings, probleme met tenders, die Covid-19-pandemie en grondeise. Die oorspronklike begroting van R2,2 miljard het sedertdien tot sowat R8 miljard gestyg.

Die projek is in 2023 weer op dreef gebring en het teen Mei vanjaar reeds 47% voltooiing bereik.

Wanneer die projek afgehandel is, sal die damwal met 13 m verhoog wees. Dit sal die dam se opgaarput aansienlik vergroot en ‘n meer betroubare watervoorsiening vir besproeiing, huishoudelike gebruik en ekonomiese ontwikkeling in die Weskus- en Olifantsrivierstreek verseker.

Mahlobo het tydens sy besoek ook ‘n beroep op alle rolspelers gedoen om saam te werk sodat die projek binne die beplande tydraamwerk voltooi kan word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 July 2026
    Weslander E-Edition – 30 July 2026

Gift this article