Altesaam 38 voltooide huise is Vrydag (3 Julie) aan hul nuwe eienaars by die Louwville-behuisingsprojek oorhandig.
Die oorhandigingseremonie is bygewoon deur Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, tesame met Marius Koen, die uitvoerende burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, lede van die burgemeesterskomitee, begunstigdes en gemeenskapslede.
Simmers het tydens die geleentheid gesê ‘n sleutel verteenwoordig veel meer as net ‘n huis. “Dit ontsluit geleentheid, sekuriteit, waardigheid en die belofte van ‘n beter lewensgehalte,” het hy gesê.
Koen het die begunstigdes met die mylpaal gelukgewens. Daar was emosionele tonele toe gesinne ná jare se wag vir die eerste keer hul voordeure oopgesluit het.

Hy het gesê die Louwville-behuisingsprojek is in vennootskap met die Wes-Kaapse regering van stapel gestuur om die beduidende behuisingsbehoefte in die munisipale gebied aan te durf.
“Die munisipaliteit het tans meer as 13 000 aansoeke op sy behuisingaanvraagdatabasis, waarvan meer as 6 000 in Vredenburg woon – veral in wyke 10 en 13.
“Die projek is ontwikkel om goedgeleë, volledige behuisingsgeleenthede aan kwalifiserende begunstigdes te voorsien. Dit is deel van die munisipaliteit se visie om geïntegreerde, volhoubare en inklusiewe menslike nedersettings te skep waar inwoners toegang het tot noodsaaklike munisipale dienste, skole, gesondheidsorgfasiliteite, openbare vervoer en ekonomiese geleenthede,” het Koen gesê.
Die projek het verskeie uitdagings in die gesig gestaar, maar is deur samewerking tussen munisipale amptenare, die Wes-Kaapse regering, konsultante, kontrakteurs en gemeenskapsbelangegroepe voltooi.
Veilige woNings
Volgens Koen sluit sleuteldoelwitte van die projek die vermindering van die munisipale behuisingsagterstand, die verskaffing van veilige huiseienaarskap aan kwalifiserende begunstigdes en die prioritisering van huishoudings, wat tans in agterplaaswonings woon, in. “Die projek het ook ten doel om ‘n veilige, waardige en volhoubare woonbuurt te skep.”
Volledig-voltooide residensiële eiendomme met toegang tot water, sanitasie, elektrisiteit, paaie en stormwaterinfrastruktuur is voorsien. Volgens die SBM het die projek ook plaaslike ekonomiese ontwikkeling gestimuleer deur werkgeleenthede vir plaaslike arbeid en opkomende kontrakteurs te skep.
Die Louwville-behuisingsprojek bestaan uit 155 voltooide behuisingseenhede wat volgens nasionale behuisingstandaarde gebou is.
Die 38 huise wat oorhandig is, is nou gereed vir bewoning.
Die munisipaliteit se departement van menslike nedersettings sal voortgaan om met begunstigdes saam te werk om ‘n vlot oorgang na hul nuwe huise te verseker.
Die munisipaliteit sê hy bly daarop gefokus om verdere geleenthede te identifiseer, finansiering te bekom en behuisingsprogramme uit te brei.



