Geweld het die gemeenskap oor die naweek geruk.

Geweld tref Vredenburg


Vredenburg is die naweek van 4 Julie weer eens deur ‘n golf van geweld getref.

Verskeie steek- en skietvoorvalle het binne enkele ure in Louwville en Witteklip plaasgevind.

Die eerste voorval het omstreeks 07:00 in Kooitjieskloofstraat plaasgevind waarna ‘n 20-jarige man na die Vredenburg-hospitaal gehaas is nadat hy met ‘n mes en ‘n panga aangeval is.

Slegs 45 minute later is nog ‘n man, ook iets in die 20 jaar, in Nackerdienstraat, Witteklip, met ernstige kopbeserings aangetref. Volgens inligting is hy met ‘n mes in die kop gesteek, wat skedelbreuk veroorsaak het. Hy is later na ‘n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas waar hy steeds behandeling ontvang.

Omstreeks 08:00 is ‘n derde man van iets in die 20 in Wilgerstraat gevind met ongeveer 11 meswonde aan sy gesig, bors en hande. Hy is in die hospitaal opgeneem.

Die geweld het later die middag voortgeduur toe ‘n 14-jarige meisie omstreeks 14:00 in Stormstraat, Witteklip, deur ‘n dwaalkoeël in die arm gewond is.

In dieselfde voorval het ‘n 21-jarige man ‘n klag van poging tot moord by die polisie aanhangig gemaak. Hy is nie in die skietvoorval beseer nie.

Volgens ‘n familielid van die 14-jarige was sy op pad winkel toe toe die voorval gebeur het. Hy sê ‘n groep mans het baklei en die volgende oomblik het ‘n koeël haar in die arm getref.

“Min het sy geweet so iets sou gebeur. Ons het haar dadelik hospitaal toe geneem en die polisie het ‘n verklaring geneem.

Die familielid sê sy is steeds bang om in die openbaar te beweeg, maar hy is dankbaar dat sy leef.

Volgens kapt. Tania Helfrich, distriks-woordvoerder vir die Weskus-polisie, het Shalton Jansen (34) en Jayden Jansen (22) op Maandag 6 Julie in verband met die skietvoorval in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

‘n Inwoner van Witteklip, wat anoniem wil bly, sê die gemeenskap is steeds diep geskok ná die geweld wat Saterdag plaasgevind het. Volgens die inwoner is baie mense bang en voel hulle nie meer veilig in hul eie huis nie. Ouers is glo ook huiwerig om hul kinders buite te laat speel, terwyl spanning en wantroue onder inwoners toegeneem het.

Die inwoner meen geweld het die afgelope tyd merkbaar toegeneem.

Hoewel misdaad nog altyd deel van die gemeenskap was, gebeur voorvalle volgens die inwoner nou meer gereeld en is dit ook gewelddadiger. “Mense praat elke dag daaroor,” het die inwoner gesê.

Hy skryf die toename in geweld en misdaad in die dorp aan werkloosheid, dwelm- en drankmisbruik, bendebedrywighede en ‘n gebrek aan opbouende aktiwiteite vir jongmense toe. Die inwoner meen owerhede moet meer intree. “Daar word gevra vir meer sigbare polisiëring, vinniger reaksie op noodoproepe en gereelde voetpatrollies, veral gedurende die nag. Samewerking tussen die polisie, gemeenskapsleiers en buurtwagte is noodsaaklik.”

Vrees en frustrasie

Norman van Wyk, ‘n gemeenskapsleier en aktivis in Witteklip, meen die vlaag van geweld spruit uit ‘n reeks voorvalle waarby minderjarige kinders betrek word.

“Dit het begin met klipgooiery en later vererger tot die afvuur van fakkels, die gebruik van tuisgemaakte vuurwapens en die beskadiging van eiendom. Saterdag het die situasie verder versleg en ontaard in ernstiger geweld, wat daartoe gelei het dat ‘n minderjarige deur ‘n dwaalkoeël getref is. Die gemeenskap was vasgevang in ‘n atmosfeer van vrees en frustrasie, aangesien baie inwoners gevoel het dat die polisie nie daadwerklik optree nie.

Van Wyk sê ‘n vergadering sal vandag, Donderdag 9 Julie, plaasvind waaraan verskeie rolspelers sal deelneem.

“Ons kan soveel meer doen om ons jongmense uit die greep van dwelms, ledigheid en bendegeweld te hou. Die grootste uitdaging waarmee Witteklip tans worstel, is ledigheid. Daar is eenvoudig nie genoeg geleenthede om ons jeug op ‘n positiewe manier besig te hou nie. Soos die spreekwoord lui: ‘Ledigheid is die duiwel se oorkussing’. Daarom moet rolspelers, gemeenskapsleiers, aktiviste, kerke en

staatsinstellings saam om die tafel sit, koppe bymekaar sit en saam werk aan oplossings wat ons gemeenskap kan versterk en ons jeug ‘n beter toekoms bied.”

Volgens Helfrich ondersoek die polisie die onderskeie sake. Enigiemand met inligting wat die ondersoeke kan help, word versoek om die polisie te kontak.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article