VREDENBURG – ‘n Reeks gewelddadige huisrooftogte in Ongegund en Witteklip tussen Vrydag 10 Julie en Maandag 13 Julie laat inwoners onrustig terwyl verskeie slagoffers met vuurwapens, messe en selfs ‘n byl gedreig en aangerand is.
Die ernstigste voorval het Sondagaand omstreeks 22:00 in Witteklip plaasgevind toe ‘n 44-jarige vrou haar motorhuis skoongemaak het. Sy het ‘n skoot hoor afgaan en met ondersoek het sy op ‘n man met ‘n vuurwapen afgekom. Die rower het haar beveel om die deur oop te maak, waarna vier gewapende mans die huis binnegegaan het. Drie van hulle se gesigte was bedek en een het ‘n wit oorpak gedra.
Die rowers het die vrou gedwing om geld uit die huis sowel as haar voertuig te oorhandig. Nadat sy gepleit het om R200 te behou om brood vir haar kinders te koop, het die rowers dié bedrag aan haar teruggegee voordat hulle met sowat R14 000 gevlug het.
Vroeër die naweek, op Saterdag omstreeks 05:00, is ‘n 36-jarige man in Ongegund deur sewe mans in sy woning oorval. Die aanvallers het die voordeur en veiligheidsdeur oopgebreek, hom met messe gedreig, aangerand en gedreig om hom te skiet. Hulle het met huishoudelike produkte en sy selfoon gevlug.
Drie verdagtes, onderskeidelik 23, 31 en 34 jaar oud, is in verband met dié voorval in hegtenis geneem en het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Naweekmisdaad loop oor tot maandag
Nog ‘n huisrooftog het Maandagoggend omstreeks 01:00 in Ongegund plaasgevind toe ‘n 44-jarige man wakker geklop is. Die verdagtes het beweer hulle is polisielede voordat hulle die deur oopgebreek en hom aangerand het. Toe hy sê hy het geen geld nie, is hy glo met ‘n byl aangerand. Die rowers het met R700, ‘n selfoon, ‘n gasbottel en gereedskap gevlug.
Slegs ‘n uur later, omstreeks 02:00 Maandagoggend, het twee onbekende mans ‘n 24-jarige man se woning in Ongegund binnegedring. Die slagoffer is met messe gedreig en van onder meer sy slimfoon beroof.
Nog ‘n gewapende rooftog het Maandagaand omstreeks 22:00 in Adelaarstraat, Witteklip, plaasgevind. ‘n 25-jarige Ethiopiese winkelier is deur ‘n gewapende man van R1 500, sigarette en koeldrank beroof. Volgens die polisie het die verdagte gedreig hy sou later vir nog geld terugkeer voordat hy op die vlug geslaan het.
Buiten die huisrooftogte ondersoek die polisie ook ander ernstige geweldsmisdade in dieselfde woonbuurte.
‘n 28-jarige vrou is Donderdagoggend omstreeks 02:00 in haar huis in Chroomstraat, Ongegund, in die linkerhand, -elmboog, -dy en -boud geskiet nadat sy wakker geword het van ‘n venster wat breek. Haar 11-jarige seun, wat saam met haar in die huis was, is ongedeerd.
Sondagmiddag omstreeks 14:40 is ‘n 27-jarige man in Wilgerstraat, Witteklip, glo deur ‘n groep mans aangeval nadat hulle hom van diefstal beskuldig het. Hy is vier keer met ‘n mes in die gesig gesteek en met ‘n paal geslaan.
Die Vredenburg-polisie ondersoek die onderskeie sake.
Niemand is teen druktyd nog in verband met die ander voorvalle in hegtenis geneem nie.


