Die aftel het begin na die 2026 Bergrivier-kanomarathon, wat op Woensdag 15 Julie by die Markstraatbrug in Paarl wegspring en vier dae later, ná 240 km, by die Carinusbrug in Velddrif eindig.
Altesaam 80 roeiers het hulle reeds vir die ikoniese wedvaart ingeskryf. Die eerste deelnemers behoort Saterdag vanaf 12:30 by die Riviera Hotel in Velddrif aan te kom, waar ondersteuners hulle kan verwelkom.
Die Weskus-kanoklub word vanjaar deur vyf roeiers verteenwoordig, terwyl vier klublede as agterroeiers sal optree om agter die laaste deelnemers te bly en hul veiligheid te verseker.
Onder die deelnemers is die voormalige wenners Thomas Lovemore (2024-manskampioen) en Christy Shrimpton (2023-vrouekampioen). Daar is nog geen inskrywing van die 14-malige wenner Hank McGregor nie.
Van die 80 deelnemers hoop 14 om die Bergrivier-kanomarathon vir die eerste keer te voltooi. Die oudste deelnemer is die 78-jarige Johan van Rooyen, wat sy 17de wedvaart aanpak, terwyl die jongste deelnemer die 16-jarige Clair Morton van KwaZulu-Natal is.
Die Bergrivier-kanomarathon word wêreldwyd as een van die moeilikste kanomarathons be-
skou en lok jaarliks toproeiers én entoesiaste na die Wes-Kaap.





