Die Saldanha Tigers van Diazville, wat die eerste keer in die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbekerkompetisie van die Weskusstreek speel, het die eerste keer daarin geslaag om Young Hearts van Pella op Diazville te klop.
Oorwinnings oor Steenberg Cove (66-12), Goedverwacht (32-27), Piketberg (41-38), Langebaan (36-21) en St. Helenabaai (32-31) in die eerste ronde, gevolg deur ‘n 47-21-oorwinning oor Steenberg Cove in die tweede, het voorspel dat nog oorwinnings in die tweede ronde op pad is.
Hul sewende posisie in die kompetisie en hul jongste oorwinning oor Young Hearts dieafgelope Saterdag (11 Julie) op die Diazville-sportterrein, wys hoe die Tiere die laaste paar weke merkwaardige verbetering toon. Die Tiere het van ‘n agterstand van twee punte (10-12) goed herstel deur dit in die tweede helfte uit te wis en Hearts die eerste keer met 16-15 geklop.
Die Tiere se knyp oor twee van die topvyf spanne in die kompetisie het gewys hulle sal nie maklik op Diazville geklop word nie.
Met dié oorwinning het die Tiere die Hearts ‘n gevoelige slag toegedien, wat hul kanse later vir die tweede posisie kan belemmer. Velddrif het ook hul kanse lewendig gehou met hul oorwinning van 44-22 teen Paternoster en opgeskuif na die derde plek – sewe punte agter Vredenburg, wat in die tweede plek is, met een wedstryd minder as die ander spanne.
Die Tiere het van hul 11 wedstryde in die eerste ronde vyf gewen, waarvan een teen St Helenabaai, een van die topvyf-spanne. Die syfers wys hulle vaar veel beter vaar as gevestigde spanne soos Hopefield, Langebaan en Piketberg.
Die Burg Boys het ook hul kanse aansienlik verbeter met ‘n oorwinning van 42-27 oor Hopefield. Met ‘n wedstryd minder as die ander spanne, behalwe St. Helenabaai, lyk dit nie of hulle maklik deur ander spanne uit die tweede posisie gelig sal word nie.
St. helenabaai maak sy stem dik
St. Helenabaai het ook sy stem dikgemaak met ‘n naelskraapse oorwinning oor Langebaan en blaas nou in Velddrif en Young Hearts se nekke. St Helenabaai kan nog albei spanne verby steek, want hulle het ook ‘n wedstryd minder as die ander spanne gespeel. Dit verbeter hul kanse om nader aan die Burg Boys te skuif.
Saldanhabaai het weer eens sy krag in die Weskus getoon toe hy Piketberg op die Saldanha Transnet-stadion met 101-21 verpletter en sodoende hul grootste oorwinning van die 2026-seisoen behaal het. Met die oorwinning bly hulle steeds sewe punte voor Vredenburg en eerste op die punteleer, wat hulle in ‘n gunstige posisie plaas om weer die titel te buit.
Vir die oorblywende vier spanne lyk die Burg Boys na die gunsteling om in die tweede plek klaar te maak, maar enigiets kan nog in die oorblywende agt wedstryde gebeur, wat die stand van sake in die laaste paar wedstryde kan verander.
Ander uitslae:
Velddrif 44-22 Paternoster
St. Helenabaai 35-33 Langebaan
Vredenburg 42-27 Hopefield
Saldanhabaai 101-21 Piketberg
Goedverwacht 38-28 Steenberg Cove
Wedstrydbepalings vir 18 Julie:
Hopefield t. Saldanhabaai
Langebaan t. Vredenburg
Paternoster t. St. Helenabaai
Young Hearts t. Velddrif
Steenberg Cove t. Piketberg
Saldanha Tigers t. Goedverwacht





