Ek weet nie van jou nie, maar vir my was dit wat die afgelope paar weke in ons land afgespeel het, hartverskeurend.
Ek verwys na die skokkende wegjaag- en plunder-aksies wat teenoor ons broers en susters uit die res van Afrika plaasgevind het. Dit was só erg dat ek een van my broers uit Zimbabwe moes kontak om te hoor of hy oukei is. Hy – soos die meeste van my broers en susters uit ander dele van Afrika – het Suid-Afrika as ‘n tweede huis gekies … nie om in ons land te kom leeglê nie, maar eerlik ‘n stukkie brood te verdien. En van die soms min wat hy en derduisende vlugtelinge uit ons mooi vasteland hier in Suid-Afrika verdien, moet hulle elke maand ietsie huis toe stuur. Die rede is eenvoudig – dit gaan nie so goed in hul onderskeie lande van herkoms nie; veral nie ekonomies van aard nie. Politieke onbestendigheid in hul lande van herkoms is ook in baie gevalle die rede vir die noodgedwonge skuif na Suid-Afrika.
Ons het die afgelope ruk die hartseer verhale sien afspeel van hoe ons broers en susters met net die broodnodige ons land moes verlaat. Party van ons vriende het dekades lank in ons land gewoon en gewerk. Ek wil glo vir baie van hulle het Suid-Afrika hul tuiste geword, maar hulle is binne ‘n oogwink ontwortel. Die hartroerende tonele wat die afgelope paar weke voor ons afgespeel het, sal in die meeste van ons se geheue vasgenael bly. Die vraag wat aanhoudend by my bly knaag, is hoe ons tot op hierdie punt gekom het. Ja, ons is almal bewus van die geweldige uitdagings waardeur ons land in die gesig gestaar word – die afgelope paar dekades al. Ons land Suid-Afrika kan nie eens behoorlik na sy eie mense omsien nie en dan het ons nog boonop die uitdaging van buitelanders (meestal uit ons vasteland, ons eie Afrika) wat hier ‘n heenkome kom soek.
Onthou, nie so lank gelede nie, het ons politieke leiers ook elders in Afrika gaan skuiling vind. Dit was en is mos net reg dat ons ook nou na ons broers en susters moet omsien. Dat ons dit wel vir die afgelope paar dekades gedoen het, is ‘n feit. Dis vir my egter hoe die toelating van ons buitelanders (veral uit ons Afrika-lande) plaasgevind het. Ek lê hier die skuld voor die deur van Suid-Afrika se politieke leiers. Hoe is immigrasiebeheer die afgelope klompie jare toegepas? Was die maatreëls wat toegepas is, streng en deursigtig genoeg? Die klagtes oor buitelanders wat ons landsgrense sommer te voet oorgesteek het, het mos op dowe ore geval. Ons het die slapgattige wyse waarop beheer word wie die land binnekom, raakgesien. Dit was net ‘n kwessie van tyd voordat die storm sou uitbars. En siedaar, dit het gebeur.
Ons mense kla al jare oor die onwettighede wat deur sommige buitelanders in ons land gepleeg word. Ons mense het die instroming raakgesien en maar gehoop dat elkeen wat die land binnekom, die nodige (wettige) dokumente byderhand gehad het om ‘n betekenisvolle bestaan in Suid-Afrika te kom voer. Dis eers toe die storm uitbreek dat ons politieke leiers wakkergeskrik het, maar toe was dit reeds te laat.
En, nog ‘n keer, soos soveel kere in die verlede, gaan dié wat aan die stuur van sake (polities) staan, weer die een of ander niksseggende toespraak lewer om hul kant van die storie te stel. Weer gaan krisisbestuur toegepas moet word.
Kon een van die amptenare binne die aangewese staatsdepartement(e) nie al lankal besef het ons sit hier op ‘n tydbom nie? Moes iemand nie deeglik dopgehou het oor hoeveel van ons broers en susters ons in ons land kan akkommodeer nie? Of is iewers weer ‘n kontanttransaksie beklink wat in die skynnaam van Afrika-eenheid gedoen is? En kyk waar het dit ons nou laat beland.
Ons jaag nou ons broers en susters uit ander dele van Afrika soos honde uit ons land. Wat ‘n skande! Glo my, ons sal lank ná hierdie wegjaag-aksie nog die gevolge van ons onbesonne dade moet dra. Ek glo die situasie kon vermy gewees het indien die politieke wil daar was om die immigrasiebeleid van Suid-Afrika strenger toe te pas. My hart bloei vir my broers en susters wat soos diere uit ons land weggejaag word. Ons land behoort sy kop in skaamte te laat sak oor wat hier gebeur het, want glo my, die res van Afrika sal onthou hoe Suid-Afrika die vreemdeling in haar midde behandel het.
Nee, kyk, as hierdie ‘n toets vir die bou van ‘n verenigde Afrika was, het ons land daai einste toets loshande gedruip.
Ek kan net hoop en bid die res van Afrika sal dit in hul harte kry om ons te vergewe vir hierdie bitter slegte flater wat ons begaan het.
God seën Suid-Afrika.
God seën Afrika.
Wees ons genadig. Maak ons een in liefde en strewe vir en na ‘n beter Afrika vir almal.





