Halala Bafanana Bafana! Halala Afrika!
Ek skree hierdie slagspreuke kliphard, want, alle mopstieks, ons nasionale sokkerspan asook die res van Afika het ons supertrots gemaak. Natuurlik sou my vuvuzela nog harder geblaas het indien ons na die volgende ronde kon deurdring, maar dit daar gelaat. Ek wil glo dat jy met my sal saamstem as ek sê dat hierdie Wêreldsokkerbeker-toernooi iets vir die boeke was.
Eerstens vir ons manne van Bafana Bafana, want ná baie jare se sokker-wendroogte op internasionale vlak het hulle uiteindelik weer hul plek verseker deur vir vanjaar se toernooi te kwalifiseer. En ja, laat ons nou maar eerlik met onsself wees … dis nie asof ons die manne regtig ‘n kans gegee het nie, want ná al die jare se wendroogte was dit maar ‘n bitter pil om te sluk. Wraggies, ‘n mens kan ook net solank vashou aan daai wonderlike sokkergloriejare toe ons die African Cup of Nations aan tuisfront gewen het; natuurlik ook die feit dat ons die sokkerwêreld bekoor het met ons sjarmante en topgehalte gasheerlandstatus in 2010.
Wat daarna gebeur het, was ‘n perd van ‘n ander kleur. Die meeste van ons nasionale sportkodes (veral rugby) het geskitter.
Selfs vrouesport het begin uitblink. Die heeltyd het ek maar bly wonder waar en wanneer Bafana Bafana dan weer ‘n deurbraak sal kry. Toe ons uiteindelik vir vanjaar se Wêreld-sokkerbeker kwalifiseer, het so ‘n klein bietjie hoop vlamgevat. Miskien, dalk net miskien, sal die manne ons kan trots maak. En wraggies – dit het gebeur.
Ons nasionale verbeelding en hoop was vasgegryp toe ons Suid Korea gewen het. Wat ‘n oomblik was dit nie! Ons was die eerste keer in die geskiedenis in die uitspeelronde van 32-spanne.
Wat ‘n prestasie; wat ‘n mylpaal! Maar dis nie al nie. Met die groter toeganklikheid vir Afrika-spanne om in vanjaar se toernooi te speel, het die vasteland behoorlik gekitter. Uit altesaam 10 Afrikaspanne het nege na die uitspeelronde van 32 deurgedring . Wat ‘n prestasie vir die vasteland.
Ek het vir die eerste keer in my bestaan met ander oë na Afrika gekyk. Ek wil glo dat die res van die wêreld ook met ander oë na ons vasteland gekyk het. Ons het wat nodig is om op die wêreldverhoog te skitter.
Ons het dit eintlik nog altyd gehad en op die oomblik toe ons almal nodig gehad het om daardie waarheid te aanskou, het dit gebeur! Kan jy jou indink wat hierdie prestasie van ons Afrika-lande vir ons kinders as toekomstige sokkersporthelde beteken?
As Afrika dit kon regkry om dit hierdie keer te doen, kan ons dit vir seker vir ‘n volgende sokker wêreldbeker ook doen en ‘n stap nader beweeg om daai gesogte trofee vir Afrika te lig.
Dis glad nie onmoontlik nie – selfs nie onmoontlik met die huidige toernooi nie, want al is Bafana Bafana op pad terug huis toe, is daar die ander Afrika spanne wat die vlam van hoop hoog hou.
Met dit wat ons met hierdie Wêreldsokkerbekertoernooi van ons Afrika-spanne waargeneem het, wil ek vertrou dat ons as vasteland harde lesse geleer het.
Wat bedoel ek hiermee?
Dis beter as ons as as Afrika saamstaan as om mekaar af te druk. Saam is ons sterker. En as die monster van xenofobie opnuut sy kop in ons mooie Suid-Afrika uitsteek, is daar baie om oor te besin. Dis egter ‘n gesprek vir ‘n volgende keer. Vir nou is ek so trots op dit wat ons as vasteland vermag het.
En as ek so trots voel, dan kan ek my nie eens indink wat hierdie prestasie vir ‘n jong sokker liefhebber en speler in die strate van Elsiesrivier beteken nie.
Iewers in die nasionale sokkerspan is dalk sy of haar helde na wie opgekyk word.
En word die droom en hoop by daardie kind al groter om ook eendag vir Bafana Bafana uit te draf. En word die droom en hoop gekoester om eendag die gesogte Fifa- trofee by ‘n eindstryd vir Afrika te lig.
Dit is binne ons bereik, want die nege uit tien spanne wat vanjaar vir die uitspeelrondes van 32 spanne deurgedring het, het dit bewys. Ons het die uithouvermoë, ons het die dryfkrag en ons het die gees om Afrika sy regmatige plek op die internasionale sokker-arena in te neem.
Ek wil glo dat ons sportleiers vir die sokker-sportkode dit opnuut raakgesien het en sal saamstaan om Afrika by toekomstige sokkerwêreldbekertoernooie te laat skitter.
Met Bafana Bafana op pad terug huis toe wil ek glo dat die manne nuwe inspirasie uit hierdie groot heldevertoning by vanjaar se toernooi geput het. Hulle mag maar trots voel op wat hulle bereik het. Ons land is natuurlik net so trots op hulle. Julle het dit vir ons land gedoen, maar ook vir julself, want elkeen van ons spelers in die nasionale span het ‘n unieke storie om te vertel hoe hulle tot by die ronde van 32 gevorder het.
Halala Bafana Bafana! Halala Afrika!




