Mensig, is ek darem verlig om te hoor dat dit so lekker by die huis gereën het. Met die koeler – of is dit ysige – weer wat sy kop uitsteek, is dit mos ideale omstandighede om weer lekker warm op te dos vir werk of vir watter geleentheid ook al. Ek sien al die gelukkige uitdrukkings op baie van julle se gesigte met die aanbreek van winter.
Nou kan daai gunsteling-jas of -serp mos weer sy ding na behore doen. Ek is baie bly vir jou, maar dit laat my onwillekeurig ook ‘n kopsprong maak in die rigting van persoonlike higiëne. Is mos maar ‘n teer sakie, veral binne ons Suid-Afrikaanse konteks.
Jip, ek weet van julle wat so kla op die busse en taxi’s op pad werk toe. En glo my, ek het begrip saam met jou.
Dis egter nie ‘n saak wat jy sommer so kaalblaaie moet aandurf nie, want dis ‘n saak wat persoonlik van aard is. Iewers moet ons seker maar die ding by sy naam noem, anders kan dit dalkies net suur uitdraai! Die laaste ding wat ek in die hoofopskrifte van ‘n aanlyn of poniekoerant wil lees, is dat van my broers en susters iewers in die Wes-Kaap mekaar oor slegte reukies aan die bors gegryp het.
Kyk, ek verstaan dit maar al te goed dat dit ekonomies maar druk gaan met ons almal. Ons almal probeer die pot aan die kook hou, al beteken dit dat jy soggens douvoordag daai trein of taxi Kaap toe of iewers heen moet neem. Jy doen dit om eerbare redes. Jy het ‘n gesin om na om te sien. Selfs die heilige Woord verklaar dat jy jou brood in die sweet van jou aangesig sal verdien. Waarheid soos dit is, wil ons darem nie al op pad werk toe daai sweet ruik nie.
‘n Mens kan dalkies nog van die werk af op pad huis toe verstaan, maar wraggies man… nie op pad werk toe nie. Ek gee hier ook die skuld vir jou saamblymaat, vroulief of manlief. As jy daai week se koslysie bymekaarsit, sit sommer ‘n klein botteltjie lekkerruikgoed vir die onderarms by.
Ek sien nie neer op my mede-broer of -suster nie. Ek het ook arm grootgeword. My ma het die sê-ding gehad dat jy arm kan wees, maar dat dit nie ‘n verskoning is om vuil en slordig te wees nie. As tienerseun was daar nie eens geld om vir my ‘n botteltjie “roll-on” te koop nie. Die koekie lekkerruikseep moes maar sy ding doen. Niemand sou weet of agterkom nie. Almal sou wel my lekker Lux-reuk kry. Ek het my eerste botteltjie “roll-on” daai dag gekry nadat Meester Mathys ons atletiekoefeninge in die snikhete oggendson laat doen het. Wie onthou nog die wit frokkie en die oefen-“jogger” wat jy moes aantrek? Daai oggend het die koekie Lux besluit om die kop uit te steek en haar skuimpies oral te wys. Ek was ná daardie episode gereed om “roll-on” te gebruik.
Daai kind – jy weet teen dié tyd hoe die mense kan skinder. Hulle gee nie om hoe hard jou manlief op die gebou of skuite moet werk nie. Hulle praat net van daai doodsreuk waarmee hulle op pad werk toe moes worstel. As jy weet dis ‘n ou probleempie waarmee jy al die jare mee sukkel, dan vra ek jou mooi – maak tog ‘n plannetjie.
Daai paar wat so hul neuse onder die leerbaadjie of jas toetrek en so af en toe met benoude gesigsuitdrukkings in jou rigting kyk, doen so om van daai doodsreuk te ontvlug. Iewers onder daai baadjie of jas is ‘n beter reuk wat nie kan wag om op Parow-stasie af te klim nie! Komaan, dis winter… jy kan beter doen en die weer speel heerlik saam!
En as die voetjies praat, dan is daar goedjies daarvoor ook – nie dat ons enigsins verwag dat daar klankies uit daardie rigting sal kom nie, want dis mos winter.
Wel, jy ken jouself. Jy weet wie jy is. Die armgoedjies en die voetgoedjies sal jou darem seker so knap onder die honderd rand uit die sak jaag. En dit kan of sal jou darem vir ‘n week of drie hou. Ek sê hierdie dinge omdat ek regtig omgee. Mense is baie lelik en snaaks hierbuite. Hulle soek enige soetsappige storie om jou in ‘n swak lig te stel.
Moenie dat jou voete die middelpunt van hul bespreking wees nie.
En volgende keer as jy op daai volgestampte trein of taxi iewers heen moet klim, maak seker dat jou voetjies en blaadjies ‘n lekker vrolike liedjie sing – nie die dodemars nie! Ek weet jy het dit in jou om hulle verkeerd te bewys.
En as die mondjie ook ‘n probleempie gee, dan stop jy op pad werk toe by daai antie met die lekkergoedstalletjie en koop vir jou ‘n paar sterk lekkers vir R2. Ek laat my nie vertel dat jy nie eens ‘n R2 vir sterk lekkers het nie. Jy ka n orals lekker ruik … vir onder ‘n honderd rand!





