Daar word gesê ‘n mens moet 70×70 keer vergewe. Dis 4 900 keer. Maar is dit 4 900 keer in jou lewe, of 4 900 keer vir dieselfde persoon?
As jy vir twee weke lank ‘n sak vrot tamaties in jou rugsak ronddra, gaan die reuk jou later oorweldig. Dis hoe dit werk met haat, wraak en die verlede.
Hoe langer jy dit saamdra, hoe swaar- der raak dit. Maar as jy die tamaties een vir een uitdeel of weggooi, raak die sak ligter en die reuk verdwyn.
Dis maklik om te sê: “Vergewe net.” Mense sê vergifnis maak jou vry en help jou aanbeweeg. Maar as iemand met moddervoete deur jou siel gestap het, is dit nie so eenvoudig nie. As die seer te groot voel en jy jou geloof in mense verloor het, hoe vergewe jy dan?
Vergifnis verander nie die verlede of maak die seer minder nie. Verkeerd bly verkeerd. Dit beteken ook nie noodwendig versoening nie, want daarvoor het jy twee mense nodig. Vergifnis kan gebeur sonder dat die ander persoon ooit jammer sê.
Dis iets wat jy vir jouself doen sodat jy weer kan asemhaal en leef, eerder as om net te bestaan.
Daar is drie mense wat ons moet vergewe:
Die persoon wat jou onbedoeld seergemaak het;
Die persoon wat jou doelbewus seergemaak het; en
En die moeilikste een – jouself.
Ons leef in ‘n wêreld waar vergifnis selde die eerste reaksie is. As iemand my seermaak, wil ek terugbaklei. Jy skiet my met ‘n R1-geweer, dan wil ek met ‘n atoombom terugkom. Maar op die einde lê albei mense flenters. So hou die wiel van haat en wraak net aan draai.
Die lewe moet meer wees as dit.
As jy met haat rondloop, gee jy eintlik beheer van jou lewe vir iemand anders. Vergifnis beteken nie jy vergeet nie, en dit beteken ook nie jy ontken jou emosies nie. Dit beteken net jy kies om die kwaad en bitterheid te laat gaan.
Die moeilikste vergifnis bly selfvergifnis. Ons almal skryf aan ons eie lewensboek. Party hoofstukke is vol foute, maar dit beteken nie die storie is klaar nie.
Die volgende hoofstuk kan anders wees, juis oor wat jy geleer het.
My seun het op vyfjarige ouderdom gesê: “Mamma, ek is jammer ek is stout, maar ek moet foute maak om te leer.” Wysheid uit ‘n kind se mond.
Ons almal maak foute. Ons neem besluite met die kennis wat ons op daardie oomblik het. ‘n Mens leer deur ervaring. Daarom moet ons soms verkeerd doen om later beter te weet.
Vergewe jouself vir die kere wat jy misluk het. Jy is nie meer dieselfde persoon as ‘n paar jaar, maande of selfs dae gelede nie. Jy is nie jou verlede nie.
Jordan Peterson sê daar is drie dinge wat kan help met selfvergifnis:
Erken wat jy verkeerd gedoen het en neem verantwoordelikheid;
Verdedig jouself soos ‘n prokureur sy kliënt verdedig; en
Besluit wat jy volgende keer anders gaan doen.
Die emosies wat selfvergifnis moeilik maak, is skuld, skaamte en teleurstelling. Maar as ons daardeur werk, raak dit moontlik om weer vorentoe te beweeg.
Jesus het nie vir die moordenaar aan die kruis gesê hy moet eers sy lewe regkry voor hy vergifnis kan ontvang nie. Hy het genade gewys – onverdiende genade. Dieselfde genade is daar vir ons ook.
“When you forgive, you love, and when you love, God’s light shines on you.”





