Liewe Kateienaar,
Ek lees so nou en dan ‘n berig raak van iemand wie se kat beseer of geskiet is. Dit kat het dit óf glad nie gemaak nie óf Kietsie loop nou met een oog rond. Die vraag bly altyd: hoe kan julle dit doen?
Wel, kom ek vertel jou nou. Weet jy hoe “wonderlik” dit is wanneer jy jou hele huis vol katmis betrap het?
Weet jy hoe “fantasties” dit is wanneer jy gras sny dat die katmis so spat?
Weet jy watter plesier dit verskaf as jy ‘n groentetuin het, en jy vind ‘n stukkie mis langs jou wortels of jou spinasie is bemis.
Nee, jy was dit nie net af met water nie, Google ‘n bietjie!
Om nie van die reuk te praat nie! Partykeer weet jy daar is mis in die omtrek, maar presies waar, bly ‘n verrassing.
Jy hardloop permanent uit plastieksakkies en handskoene, want die hoeveelheid plastiek wat jy moet gebruik om hierdie “engeltjies” se mis op te tel, is verstommend.
Jy kan nie voëls as troeteldiere aanhou nie, want dié word deur die katte opgeëet (Nee, hoekom hou jy nie eerder jou kat permanent in ‘n ordentlike hok aan nie?)
So, volgende keer as jy wonder hoe iemand dit in hulle hart kon regkry om jou liefling leed aan te doen, onthou vir ‘n voël- en tuinliefhebber kan ‘n kat ‘n groter kopseer wees as wat jy besef!
As ek nie bang was vir wette, boetes en tronkstraf nie, het ek al lankal ‘n paar “engeltjies” hemel toe gestuur.
Maar vir nou dryf jou katte my na te veel drank en al kat wat ek dus skiet, is die een in die toilet.
Die uwe,
Noem my sommer ‘n vroulike kat in Hollands.




