Verlede Woensdag het ek ontdek dat my hele rioolstelsel verstop was. Water – en ander onaangenaamhede – het letterlik by al die steekoë op my erf uitgesypel. Nadat ek die onaangename reuk opgemerk het, het ek Donderdagoggend die munisipaliteit besoek om die probleem aan te meld.
Die amptenaar, Stephanus [Esau], het aandagtig na my verduideliking geluister, twee vinnige oproepe gemaak en my verseker dat iemand die situasie sou kom ondersoek. Ek is toe huis toe, waar ek vir my vrou gesê het dat ons maar nog ‘n rukkie sal moet “knyp”.
Tot my verbasing het die werkers skaars 15 minute later opgedaag. Met hul ondersoek het hulle vasgestel dat die probleem veel groter was as wat ek aanvanklik gedink het: die hele rioolstelsel in ons straat, insluitend al die pype en drie mangate, was verstop. Die enigste moontlike uitlaat vir die opbouende inhoud was deur my stelsel.
Die span kon nie onmiddellik die probleem oplos nie, aangesien die pomplorrie op daardie stadium in Saldanha was en waarskynlik eers ‘n uur of twee later beskikbaar sou wees. Intussen moes ek en Vroulief maar aanhou “knyp”.
Nogtans het dinge vinniger verloop as wat ons verwag het. Skaars 45 minute later het Rentzel by ons huis stilgehou, en binne enkele minute was die probleem opgelos.
Hiermee wil ons ons opregte dank uitspreek teenoor al die betrokke amptenare en werkers vir hul flinke en professionele optrede.
Dit is verblydend om te sien dat daar steeds mense is wat trots op hul werk is en wat hul pligte met ywer en toewyding uitvoer, ongeag die aard van die taak.
Baie dankie aan elkeen wat gehelp het.
Danksy julle hoef ek en Vroulief gelukkig nie meer te “knyp” nie!
Jan Fourie
Hopefield

