Ons hoor al hoe meer van kinders wat geboelie word. Dt is ‘n woord wat swaar dra, en met reg. Ons dink onmiddellik aan die tipiese toneel van ‘n groep kinders wat een kind teiken, afbreek en uitsluit. En ja, dit gebeur. Dit is werklik, dit is seer, en dit moet aangepak word. Maar wat as die probleem nie altyd net daar lê nie?
Onlangse tragiese voorvalle waar kinders hul eie lewe geneem het, ruk gemeenskappe tot stilstand. Ons soek antwoorde. Ons soek iemand om te blameer. Dikwels wys ons vingers na ander kinders – die “boelies”. Maar het ons al eerlik gevra of die seerkry dalk ook van ander plekke af kom? Wat van die klaskamer? Wat van die kind wat dag na dag hoor hy of sy is nie goed genoeg nie – die een wat voor ander uitgewys word vir swak punte; die een wat voel hy hoort nie daar nie; die een wat vrae het, maar nie meer durf vra nie, omdat die reaksie ‘n sug, ‘n skerp antwoord of selfs vernedering is.
Onderwysers dra ‘n ongelooflike verantwoordelikheid. Hulle vorm nie net akademiese prestasie nie … hulle vorm selfbeeld, hoop en drome. ‘n Woord van aanmoediging kan ‘n kind lig; ‘n woord van afbreking kan lank bly sny. Kinders floreer nie waar hulle bang is om foute te maak nie. Hulle floreer waar iemand sê: “Kom ons probeer weer. Ek glo jy kan.”
Natuurlik is nie alle onderwysers so nie. Daar is ongelooflike opvoeders wat hul harte gee, wat ure insit, wat kinders sien en hoor. Maar daar ís ook gevalle waar die passie plek gemaak het vir frustrasie; waar empatie vervang is met ongeduld.
Dit laat ons vra: Wat het verander?
Ons leef in ‘n tyd van druk, oorvol klasse, administratiewe laste, hoë verwagtinge. Onderwysers is self onder spanning. Maar kan dit ooit ‘n verskoning wees om ‘n kind se selfbeeld af te breek?
Wanneer ‘n kind se punte skielik daal, is dit nie altyd luiheid nie. Soms is dit ‘n roep om hulp. Soms is dit die gevolg van nie verstaan nie, van nie ondersteuning kry nie, van nie veilig genoeg voel om vrae te vra nie.
Ons moet begin vra: Skep ons skole ruimtes waar kinders kan groei … of plekke waar hulle net moet oorleef?
Hierdie is nie ‘n aanval op onderwysers nie. Dit is ‘n pleidooi – ‘n pleidooi vir bewustheid; vir deernis; vir introspeksie.
Die feit is – boeliegedrag het baie vorme. Dit is nie altyd fisiek of openlik nie.
Soms lê dit in woorde, in toon, in die stilte wanneer ‘n kind hulp nodig het.
Ons kinders verdien beter. Hulle verdien onderwysers wat in hulle glo, selfs wanneer hulle self nie meer glo nie. Hulle verdien ‘n stelsel wat nie net prestasie meet nie, maar menswees bou.
Miskien is dit tyd dat ons nie net vra wie die boelies is nie … maar ook waar hulle kan skuil.
Bekommerde ouer
Weskus




