Die Verkiesingskommissie (OVK) het kiesers aangemoedig om hul demokratiese reg uit te oefen en betyds vir die 2026- plaaslike regeringsverkiesing te registreer.
Tydens ‘n onlangse geleentheid het die OVK-verteenwoordiger Michael Hendrickse gesê Suid-Afrikaners staan voor talle uitdagings, waaronder geweldsmisdaad, wat gemeenskappe oor die land heen raak.
“Ons reaksie kan nie bloot na binne gerig wees nie. Die verlies van lewens weens geweldsmisdaad raak ons almal. Wanneer een gemeenskap ly, raak dit die hele samelewing,” het hy gesê.

Hendrickse het beklemtoon dat stem nie bloot ‘n administratiewe oefening is nie, maar ‘n belangrike manier waarop burgers hul leiers tot verantwoording kan roep.
“Ons het almal die geleentheid om diegene in mag te beoordeel, hul planne en prestasies te ondersoek en op 4 November 2026 ons munisipale raadslede te verkies,” het hy gesê.
Volgens hom sal die OVK voortgaan om geleenthede te skep vir burgers om in vrye en regverdige verkiesings te registreer en deel te neem.
Hy het kiesers aangemoedig om van hierdie geleentheid gebruik te maak. “Jou mening maak saak, en as jy wil hê dit moet tel, plaas dit in die stembus.”
Die aanlyn kiesersregistrasieportaal bly beskikbaar totdat die 2026- plaaslike regeringsverkiesing amptelik geproklameer word. Kiesers kan registreer deur die OVK se webwerf by www.elections.org.za/registertovote te besoek, hul persoonlike besonderhede in te vul en ‘n geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokument op te laai.
Inwoners kan ook hul registrasiestatus nagaan deur hul ID-nommer per SMS na 32810 te stuur (R1 per SMS), hul plaaslike OVK-kantoor gedurende kantoorure te besoek, of die OVK se webwerf by www.elections.org.za te besoek en op die skakel “Am I registered to vote?” te klik.




