Dis die middel van die jaar en my jaarlikse doenlys moet nog baie regmerkies kry voordat alles afgehandel is. Die gevoel laat my sommer al die papiere in die lug opgooi met die fantasie – as dit op die tafel beland, sal als in orde en afgehandel wees. Dis seker wat ‘n mens ‘n gevoel van “overwhelming” sal noem.
Dis als goed en wel jy maak lysies om dinge in jou kop te probeer organiseer, maar niks gaan gebeur as jy nie van jou stoel af opstaan en begin doen nie. Hoekom is dit soms dat ‘n mens al hierdie wonderlike planne en idees het, maar dis al wat dit is – planne en idees? As jy weer op jou horlosie kyk, is ‘n uur verby en jy sit nog op dieselfde stoel. Jy het jou tyd verbygekry om Facebook, YouTube of enigiets anders te doen, behalwe dit wat jy veronderstel was om te doen. Dit laat my soms my hare uit my kop trek en ek raak bitter kwaad vir myself, maar dit gebeur meer gereeld as wat veronderstel is … en só gaan die tyd verby.
Wat is die spreekwoord nou weer? “Met die water wat verby is sal jou meule nooit weer maal.” Dit laat ‘n mens nog meer skuldig voel. Wat laat jou dus uitstel? Die een ding wat seker waar is, is daai ding van uitstel kom afstel.
Dit kan lyk asof jy lui is. Daar is egter ‘n groot verskil tussen luiheid en uitstel. As jy lui is, is jy apaties, passief en onwillig om take te doen. Uitstel is ‘n aktiewe proses waar take wat prioriteit moet kry, vermy word deur ander take te doen.
Hoekom stel jy dan uit? Dis glo die liggaam se manier om jouself teen ‘n taak wat jy as ‘n bedreiging beleef, te beskerm.
Die gewoonte van uitstel werk só: Jy het ‘n sneller wat spanning veroorsaak. Dan is daar ‘n gedragspatroon – vermy dit wat gedoen moet word. Laastens is daar ‘n beloning wat die spanning verminder.
Prakties lyk dit so: Jy moet die voorlegging doen en dit veroorsaak spanning. Jy gaan eerder mall toe vir drie ure en ontmoet ‘n vriendin vir koffie. Die beloning is die lekker kuier saam met jou vriendin en mooi goed wat jy gekoop het.
Uitstel kan ook meer wees as ‘n slegte gewoonte. Soms word dinge uitgestel omdat iemand ‘n angsversteuring het, depressief is of ‘n aandagtekort-sindroom het. Uitstel verhoog gewis jou stresvlak.
Die gevolge van uitstel is angs, depressie, hoë stres, skaamte en fisiese kwale. Keerdatums is iets wat die vuur onder jou stook sodat jy oorgaan na aksie. Dis dan dat jy die eerste plek vir Miss 99 kry.
Hoe kan jy jouself dan teen uitstel staal? Bepaal hoekom jy ‘n taak uitstel – is dit vrees vir mislukking of perfeksionisme? Erken die emosie en herinner jou aan hoe goed jy sal voel as dit afgehandel is. Breek take op in kleiner take wat minder intimiderend is. Hoe eet mens ‘n olifant? Stukkie vir stukkie.
Gebruik die vyfminute-reël – onderhandel met jouself om net vyf minute aan die taak te werk. Dit motiveer jou soms om langer aan te hou werk.
Stel prioriteite.
Maak ‘n realistiese lys van take en begin dit doen.
Vergewe jouself – moenie dat vorige uitstel jou skuldig laat voel nie.
Doen die moeilikste ding eerste.
‘n Gewoonte is iets wat jy outomaties doen sonder om daaraan te dink. As jy die gewoonte aanleer om elke dag die kleinste ding te verander wat die grootste positiewe verskil in jou lewe tot gevolg sal hê, kan dit help dat daai uitstel-monster minder in jou lewe sal rondloop.
Die slotsom vir my is – hoe meer jy uitstel, hoe meer gaan jy van jou drome en geleenthede mis. As jy mooi daaraan dink, is dit hartseer dat jy soms so baie tyd op onnodige dinge mors. Is dit dan nie ook hoekom ons soms net bestaan en nie lewe nie?
Dalk moet ons almal net onthou: “Met die waters wat verby is sal jou meule nooit weer maal nie.”





