Bly hoop en glo, ‘n rubriek deur Andre Smith.

RUBRIEK | As jy aan ‘n vrou slaan, slaan jy teen ‘n rots


Augustus-maand is die maand van die vrou in ons mooie land. Ek dink ons onderskat haar – die Suid-Afrikaanse vrou. Ons sê maklik vir haar : ‘Jy is ‘n sterk vrou.” Ons plaas dit op ‘n mooi prentjie saam met ‘n blom, ‘n sonsondergang en dalk ‘n Bybelvers. Ons stuur dit op WhatsApp vir mekaar en voel vir ‘n oomblik beter oor die wêreld. Maar miskien moet ons vir ‘n slag ‘n bietjie dieper kyk – regtig kyk na die vrou wat elke oggend opstaan terwyl sy eintlik nog moeg is van gister; na die Mamma wat eers seker maak haar kinders het geëet voordat sy aan haar eie bord dink; die vrou wat by die supermark voor die rak staan en in haar kop somme maak – “Kan ek dit bekostig?”

Sy sit die kaas terug; vat die goedkoper een. Loop nog ‘n draai; vergelyk pryse; kyk weer na die geld in haar beursie. Sy sal dit net-net maak met die totaal wat sy met die blote oog in haar beursie aftel. En dan koop sy boonop iets vir die kinders waarvan sy weet hulle hou.

Dit is maar hoe ‘n mamma is. Sy kan honger wees, maar sy wil hê haar kinders moet eet.

Sy kan bekommerd wees, maar sy glimlag wanneer haar kroos by die deur inkom. Sy kan self moedeloos wees, maar wanneer haar kind vra:’Mamma, sal alles oukei wees?” antwoord sy: “Ja, my kind”, al weet sy self nie of dit die geval sal wees nie. Hierdie maand gaan oor veel meer as net blomme, sjokolade en boodskappe op Facebook. Dit kom uit ‘n geskiedenis van vroue wat geweier het om stilgemaak te word.

Op 9 Augustus 1956 het meer as 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria gemarsjeer om teen paswette te betoog. Onder die leiers was Lillian Ngoyi, Helen Joseph, Rahima Moosa en Sophia-Williams-De Bruyn. Hulle het daar gestaan en hul stemme laat hoor. Vroue van verskillende agtergronde, wat vir ‘n oomblik een stem geword het.

In die Suid-Afrika van post-1994 het 9 Augustus ‘n nasionale dag geword waarop ons die rol en bydrae van vroue in ons jong demokrasie eer. En dit is goed, want ons vroue verdien dit.

Maar ek wonder soms of ons regtig verstaan hoeveel van hierdie land op die skouers van vroue rus – nie net die vroue wie se name ons ken nie; nie net die vroue met groot titels agter hul name nie. Ek praat van die vrou wie se naam jy dalk nie eens ken nie – die vrou wat by die huis werk; die vrou wat in ‘n fabriek werk; die vrou wat kinders grootmaak; die vrou wat ‘n klein besigheidjie van haar huis af bedryf; die vrou wat vir haar bejaarde ma sorg. Hierdie vroue hou Suid-Afrika op maniere aan die gang waarvan ons selde praat.

En deesdae is dit moeiliker as ooit, want die ekonomie knyp behoorlik. Alles is peperduur. Ten spyte van die ekonomiese druktye, kry ons mammas dit steeds reg om die haarself en haar gesin aan die lewe te hou. Dit is wat my aan Suid-Afrikaanse vroue verstom. Hulle maak ‘n plan. Met min maak hulle baie. Ons mammas se geloof in die Hoër Hand wat sal voorsien, bemoedig, inspireer en versterk my eie brose geloof.

Hierdie Vrouemaand wil ek vir elke Suid-Afrikaanse mamma die volgende sê:

Dankie dat jy jou kinders leer hoop. Dankie dat jy jou gesin dra. Dankie dat jy steeds in Suid-Afrika glo wanneer dit soms moeilik is om dit te doen. Dankie dat jy uit min iets probeer maak. Dankie dat jy liefde gee wanneer jy self liefde nodig het. Dankie dat jy altyd daar is vir ons. In die tye as dit goed gaan, maar nog meer in die tye wanneer dit nie so goed gaan nie.

Wathint’ abafazi, wathint’ imbokodo. As jy ‘n vrou slaan, slaan jy ‘n rots. Ons sal hierdie woorde nooit vergeet nie. Soveel het intussen al in ons mooie land gebeur en verander.

Dalk moet ons hierdie maand ook onthou dat ‘n rots nie elke dag hoef sterk te lyk nie, want selfs ‘n rots verweer met tyd. Selfs ‘n rots dra merke, maar hy bly staan. En so staan jy nog – sterk, vasberade en beginselvas.

Jou geloof in Hom wat sal voorsien en vir ons sal deurkom, inspireer ons elke dag. Jou omgee-liefde is vir jou gesin en almal om jou is ‘n veilige anker om aan vas te hou in die donker tye wat ons soms deurgaan. Ons sien jou raak. Ons salueer jou, dapper vrou van Afrika. Solank JY daar is, sal ons land oukei wees. En as ons land weer soos in 1956 na die Uniegebou in Pretoria moet opruk, dan weet ons jy sal nog ‘n keer die rots wees wat ons land van ondergang sal red.

Jou woorde en veral jou aksies dra krag. Jou stille gebede is wat ons land in hierdie uiters moeilike tye staande hou.

Mag jy hierdie Vrouemaand weet en ervaar dat ons jou raaksien.

Ons lief jou baie!

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 August 2026
    Weslander E-Edition – 13 August 2026

Gift this article