Die digte wintermis wat die Weskus vanjaar gereeld bedek, is besig om ‘n dodelike tol te eis.

Twee mense is naby Piketberg dood, onder wie ‘n man op sy verjaarsdag, en vier ander, insluitend ‘n swanger vrou, is in dié motorongeluk ernstig beseer.

‘n String nie-noodlottige botsings het die afgelope maand gebeur.

Selfs ‘n sogenaamde fender bender raak al die betrokke partye diep. Vir ‘n motorfietsafleweraar beteken ‘n dag of twee in die hospitaal ‘n verlies aan inkomste vir daardie tyd, maar ook beserings wat lank kan neem om heeltemal gesond te raak.

Vir die motoris wat nie betyds die dowwe hooflig van ‘n motorfiets deur die digte mis sien naderkom nie, is daar die skade aan ‘n voertuig, maar ook die emosionele las om onbedoeld iemand ernstig te beseer of selfs sy of haar lewe te neem.

Ten spyte hiervan, ry talle motoriste steeds sonder enige ligte aan, wat nog te sê hoofligte of misligte.

Dit is onverskillig en onverantwoordelik.

Jou ligte is nie net daar sodat jý die pad kan sien nie. Dit is veral daar sodat ander padgebruikers jou betyds kan raaksien.

In uiters digte mis, soos ons tans ervaar, kan ‘n voertuig sonder ligte feitlik onsigbaar wees totdat dit te laat is.

Die mis verdwyn weer voor die son, maar die skade ná enige botsing, noodlottig of nie, is blywend.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article