‘n Afvaardiging van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement se Staande Komitee oor Maatskaplike Ontwikkeling het onlangs Badisa Weskus se Kinder- en Gesinsdienste amptelik besoek.
Die afvaardiging, onder leiding van voorsitter Wendy Kaizer-Philander, wou met eie oë sien hoe Badisa elke dag vir kinders, gesinne en gemeenskappe in die streek omgee.
Tydens die besoek het die komiteelede met personeel gesels, na programme gekyk en openlik gepraat oor wat goed gaan, en wat nie.
Adrie Jurgensen, direkteur van kommunikasie, bemarking en vennootskappe by Badisa, meen die komitee is beïndruk. Hulle het Badisa Weskus geloof vir hul passie, toewyding en vernuwende benadering, en gesê hulle is tevrede met die positiewe verskil wat die organisasie in mense se lewens maak.

Jurgensen het dit só opgesom: “Amptelike toesigbesoeke soos hierdie is waardevol omdat dit ruimte skep vir betekenisvolle gesprekke tussen diensverskaffers en besluitnemers. Dit gee ons ook die geleentheid om die realiteite, uitdagings en suksesse te deel van elke dag saam met kinders en gesinne werk. Ons is dankbaar vir die komitee se belangstelling in ons werk en dat hulle die Badisa Weskus-span se toewyding erken het om gemeenskappe met sorg, waardigheid en hoop te dien.”
Badisa is verteenwoordig deur Renee Pretorius, groepsbestuuder van maatskaplike dienste, Elsabé Bester, maatskaplikediensbestuurder, Zoe Borchards, bemarking, en Jurgensen.
Hy het benadruk dat Badisa daartoe verbind bly om kinders, gesinne en gemeenskappe te begelei deur professionele maatskaplike ontwikkelingsdienste, met sorg, beskerming, ondersteuning en hoop as grondslag.





