Kinderbeskermingsweek word jaarliks van einde Mei tot begin Junie gevier om die lig op die bewusmaking van kinderveiligheid te laat skyn.
Vanjaar duur dit van Vrydag 29 Mei tot Vrydag 5 Junie.
Weslander het by Weskussers, wat hulle ook vir die regte van kinders beywer, gaan aanklop om hul mening oor die werklike betekenis van die week te kry.
Jané Moss, ‘n maatskaplike werker by Siyabonga Care Village, meen die week is net weer ‘n herinnering dat elke kind die reg op veiligheid het en dat bewusmaking geskep moet word.
Hoewel Kinderbeskermingsweek net ‘n week duur is dit vir Moss belangrik dat mense weet kinderbeskerming is ‘n veldtog van 365 dae.
“Ons moet weet hoe om waaksaam te wees en hoe om tekens te identifiseer van verwaarlosing en mishandeling. Ons moet weet elke daad om ‘n kind te beskerm deur op te tree, te luister en aandag te gee maak ‘n verskil.”
Volgens Esmerelda Mckay, ‘n aktivis van Saldanha, kan gemeenskappe kinders se veiligheid ondersteun deur veilige ruimtes te skep, buurtondersteuningstelsels te versterk, deel te neem aan bewusmakingsveldtogte, mishandeling en verwaarlosing aan te meld, en positiewe ouerskapspraktyke aan te moedig.
“Voortdurende samewerking tussen regeringsdepartemente, skole, wetstoepassingsagentskappe, geloofsgebaseerde organisasies en gemeenskapslede is noodsaaklik om te verseker dat kinders dwarsdeur die jaar beskerm bly.
“Kinderbeskermingsweek het dalk verbygegaan, maar die verantwoordelikheid om kinders te beskerm duur elke dag voort. Die kernboodskap is dat elke kind verdien om in ‘n veilige, koesterende en ondersteunende omgewing groot te word. Die beskerming van kinders is nie net die verantwoordelikheid van die regering en belanghebbendes nie; dit is ‘n kollektiewe verantwoordelikheid wat aktiewe betrokkenheid van ouers, versorgers, skole, gemeenskappe en die samelewing as geheel vereis,” voeg Mckay by.
Nzondie Ngalwana van Badisa Weskus meen terwyl baie organisasies, skole en regeringsdepartemente hard werk om kinders te beskerm, is daar altyd ruimte vir verbetering. Sy voel meer hulpbronne, groter gemeenskapsbetrokkenheid, sterker voorkomingsprogramme en vinniger reaksies op kinderbeskermingskwessies is nodig om te verseker dat kwesbare kinders die ondersteuning ontvang wat hulle verdien.
“Ek wil graag groter gemeenskapsdeelname, meer opvoedkundige programme in skole, verhoogde ondersteuning vir ouers en versorgers, en sterker samewerking tussen belanghebbendes sien. Dit sal ook voordelig wees om meer kinderbeskermingsaktiwiteite dwarsdeur die jaar te hê sodat bewustheid en ondersteuning nie eindig wanneer Kinderbeskermingsweek verby is nie,” voeg sy by.



