Dit is met groot trots dat Hesmari Meyer van Vredenburg, ‘n finalis in die Mnr. en Mev. Doof Suid-Afrika 2025, ‘n prestasie as eerste prinses en mensekeuse-titel gewen het.
Die spoggeleentheid het op Saterdag 30 Mei in Gauteng plaasgevind.
Volgens Meyer is dit ‘n ongelooflike eer en voorreg om hierdie titel te dra en dat die prestasie deur harde werk, deursettingsvermoë en geloof vrugte afgewerp het.
Dit was vir Meyer ‘n skok en mengsel van emosies toe sy die aankondiging hoor, met die trane wat spontaan gekom het.
Meyer het vir die kompetisie ingeskryf om ander gestremde mense te inspireer om nie teen hul gestremdheid vas te kyk nie, “maar om te weet as ‘n mens wil, kan jy enigiets bereik. Ons as gestremdes word baie gemarginaliseer, maar ek wil as inspirasie dien vir almal om vir hulself op te staan en te sê ‘ons kan, al is ons anders’.”
“Ek sal die hele ervaring altyd onthou. Wat dit besonders gemaak het, was dat ons nie as vyande teen mekaar meegeding het nie. Ons het as ‘n gemeenskap van mense met gestremdhede byeengekom, mekaar ondersteun en soos familie geword. Die sterk bande en vriendskappe wat gevorm is, sal vir altyd by my bly.”
Met hierdie platform wil Meyer graag bewustheid skep en ondersteuning bied om ander te inspireer.
Oor die volgende paar maande sal sy haar projekte en planne noukeurig beplan, sodat sy op ‘n betekenisvolle manier die dowe gemeenskap kan dien en ondersteun.
Tydens haar reis was Meyer geseënd met baie mense wat haar ondersteun het. Haar grootste ondersteuners was haar ouers, Charmaine en Rian Laubscher, verloofde Pieter de Villiers, asook haar aanstaande skoonouers, Elizma Bester en Dawie de Villiers. “Hul liefde, aanmoediging en ondersteuning het my gehelp om hierdie doelwit te bereik.”
Sy moedig ander aan in die dowe gemeenskap om nooit moed op te gee nie en hul drome na te jaag.
“Daar sal tye wees wanneer dinge onmoontlik lyk, maar onthou dat met geloof, harde werk en deursettingsvermoë baie dinge moontlik is. Glo in jouself en moenie toelaat dat enige beperking jou keer om jou doelwitte te bereik nie.”
Meyer bedank almal wat deel was van hierdie ongelooflike reis. “Hierdie prestasie behoort nie net aan my nie, maar aan elkeen wat in my geglo het.”




