Om jou matriekafskeid by te woon, is ‘n groot droom in enige jongmens se lewe, maar nie almal kry die geleentheid nie.
High Hopes, ‘n organisasie sonder winsoogmerk in Hopefield, wil hierdie geleentheid vir almal aanbied.
Volgens Claudine Cleophas, die stigter van die organisasie, het die idee begin as ‘n visie om die ervaring van ‘n matriekafskeid vir almal toeganklik te maak, ongeag hul agtergrond of ouderdom.
Cleophas meen dit is belangrik om te besef hoe baie mense uit ons gemeenskappe se akademiese geleenthede en mylpale ontneem is weens die omstandighede van die verlede of keuses wat gemaak is en sien dit as ‘n eer om hierdie oomblik weer terug te gee.
“Die grootste behoefte is die gebrek aan erkenning vir prestasies onder uitdagende omstandighede. Ons het besef dit is vir baie mense – die bereiking van skool-voltooiing – weens sosio-ekonomiese struikelblokke ‘n byna onmoontlike taak was. “Daar is ‘n behoefte aan inspirasie; ons wil die jeug inspireer om hul skoolloopbaan te voltooi deur aan hulle te wys dat hul harde werk gevier sal word, ongeag hul ouderdom of lewenspad,” vertel Cleophas.
Vir Maurichen Lambritz (43) en Hendrico du Toit (34), inwoners van Vredenburg, is hierdie glansaand een waarna hulle al vir ‘n lang tyd uitgesien het.

Nie een het die geleentheid gehad om hul matriekafskeid destyds by te woon nie. Terwyl ander oor rokke gedroom het, vertel Lambritz sy het vroeg “grootgeword” en swaar verantwoordelikhede gehad.
“Dit is ‘n stil hartseer wat my jare lank vergesel het. Om hiedie geleentheid by te woon voel soos ‘n bittersoet oomblik. Dit bring trane, maar ook genesing vir daardie jong meisie wat so baie moes opoffer. As ek haar kon vashou, sou ek sê: Jou drome is destds uitgestel, nie dood nie.”
Du Toit het by Karitas Spesiale Skool skoolgegaan en meen hy het dit nie baie breed gehad in die lewe nie, maar met die nuwe geleentheid voel dit soos ‘n deur wat oopgegaan het.
“Ek sien daarna uit om my mooi te maak, my pak aan te trek, die kar blink te very – en die cherrie op die koek is dat ek ook ‘n metgesel vir die aand het!”
Cleophas hoop deelnemers sal die ervaring verlaat met ‘n gevoel van trots en waardigheid.
“Vir die jeug hoop ons dit dien as motivering om skool te voltooi en in hul eie potensiaal te glo.
“Vir die ouer deelnemers hoop ons dit is ‘n ervaring van afsluiting en blydskap, waarna hulle uiteindelik hul eie sukses kan vier op ‘n manier wat hulle voorheen geweier is.”
Die geleentheid vind op Vrydag 25 September plaas by House of Kuierkraal, Hopefield, om 18:30. Kaartjies kos R350. Besprekings moet teen Woensdag 15 Julie op die laatste gedoen en betaal word.
Sou jy High Hopes se matriekafskeid wil bywoon, kan jy Cleophas per WhatsApp by 076 507 3819 kontak.






