Wat vir een persoon net ‘n stuk karton, ‘n plastiekhouer of ‘n leë blikkie is, kan vir iemand anders ‘n paar rand beteken.
Dit is die boodskap waarmee Erika Huysamen van West Coast Recycling Hub in Vredenburg die gemeenskap wil inspireer om anders na afval te kyk. Huysamen en haar span het voorverlede Saterdag (15 Augustus) hul deure oopgemaak op die hoek van Uitspan- en Canolastraat, met ‘n groter doel as om bloot herwinbare materiaal in te samel.
Hulle wil mense help om ‘n ekstra inkomste te verdien, terwyl hulle terselfdertyd die Weskus se omgewing skoner maak.
“Ons het raakgesien dat baie herwinbare materiaal steeds op stortingsterreine beland, terwyl baie inwoners sukkel om werk of ‘n bron van inkomste te vind,” vertel Huysamen.
Vir haar het die idee agter West Coast Recycling Hub ontstaan uit twee behoeftes wat hand aan hand loop: ‘n behoefte aan ‘n skoner omgewing én ‘n behoefte aan ekonomiese geleenthede.Huysamen sê dit was vir hulle belangrik om mense vir hul herwinbare materiaal te betaal omdat hulle besef hoe groot die finansiële druk op gesinne is.
“Daar is baie mense wat sukkel om werk te kry en vir wie elke rand ‘n verskil maak,” sê sy.
Elke bietjie maak ‘n verskil
Deur materiaal soos karton, papier, blikkies en plastiek per kilogram te koop, wil die onderneming mense die kans gee om geld te verdien uit iets wat andersins eenvoudig weggegooi sou word. Sy sê egter dat herwinning nie as ‘n plaasvervanger vir ‘n voltydse werk gesien moet word nie. “Ons belowe nie ‘n voltydse inkomste nie, maar ons bied wel ‘n geleentheid om geld te verdien uit karton, papier, blikkies en plastiek wat andersins weggegooi sou word.”
Omdat West Coast Recycling Hub nog jonk is, maak die onderneming tans nog sy naam in die gemeenskap bekend. Huysamen sê die deure het eers onlangs geopen en dat bewustheid oor die geleentheid nog toeneem. Sy glo dat daar groot potensiaal is wanneer inwoners, skole en ondernemings begin besef hoeveel waarde daar in hul afval lê. “Ons wil mense bewus maak dat die items wat hulle daagliks weggooi geldwaarde het.”
Volgens haar word onder meer karton, papier, blikkies en verskillende soorte plastiek steeds in groot hoeveelhede weggegooi. Vir iemand wat reeds elke sent moet omdraai, kan ‘n sak of twee se herwinbare materiaal ‘n klein verskil maak.
Onderneming skep hoop
Die materiaal wat by die onderneming ingedien word, word ná die aankoop uitsorteer en voorberei voordat dit aan gevestigde afsetpunte verkoop word. Die materiaal word dan in die herwinningsketting ingevoer en kan uiteindelik gebruik word om nuwe produkte te vervaardig. Vir Huysamen is dit waar die ware waarde van die onderneming lê. Elke bondel karton, sak plastiek of versameling blikkies beteken minder afval op ‘n stortingsterrein – en terselfdertyd ‘n kans vir iemand om ‘n geldtjie te verdien.
“Vir ons gaan dit nie net oor herwinning nie, maar ook oor die skep van geleenthede en hoop in ons gemeenskap,” sê sy.
Sy hoop dat West Coast Recycling Hub oor die volgende jaar bekend in die gemeenskap sal word en dat inwoners, skole en ondernemings by herwinning betrokke sal raak. Sy wil ook hê dat mense moet hul eie potensiaal moet raaksien. “Wat vir sommige afval is, kan vir iemand anders ‘n brood op die tafel, elektrisiteit vir die huis of ‘n tree nader aan finansiële stabiliteit beteken.”
Haar droom is dat die onderneming uiteindelik bekend sal staan as ‘n plek waar mense, die gemeenskap en die omgewing almal voordeel trek.
Vir Huysamen begin die groter prentjie egter klein. “Een kilogram op ‘n slag.”
Skakel West Coast Recycling by 079 396 1570 of 072 808 3608 vir nog inligting.





