VREDENBURG – Wat vir een mens oud of onnodig geword het, kan vir iemand anders steeds waarde hê. Dít is die uitgangspunt van Krap & Koop, Siyabonga Care Village se liefdadigheidswinkel.

Die winkel vier vanjaar sy negejarige bestaan en het oor die jare ontwikkel tot ‘n plek waar bekostigbaarheid, hergebruik en gemeenskapsdiens saamkom.

Krap & Koop is aanvanklik gestig om in die behoefte aan bekostigbare klere en huisware te voorsien, terwyl dit terselfdertyd ‘n volhoubare inkomste vir Siyabonga Care Village se welsynwerk skep.

Volgens Lindie Busch, koördineerder van Krap & Koop, word skenkings sorgvuldig gesorteer om seker te maak dat so veel as moontlik daarvan ‘n tweede lewe kry.

“Geen skenking wat na Krap & Koop gebring word, gaan verlore nie. Selfs al dink jy iets is oud of stukkend, bring dit gerus. Ons vind amper altyd ‘n doel daarvoor,” sê sy.

Goedere wat benodig word, word eerstens aan Siyabonga se fasiliteite beskikbaar gestel. Ander artikels word in die winkel verkoop, terwyl klere wat nie geskik is vir verkoop nie, aan ‘n plaaslike pastoor geskenk word om verder onder minderbevoorregte mense te versprei.

Een ongewone skenking was selfs ‘n stukkende toilet wat later in ‘n blomhouer omgeskep is.

“Alles kry ‘n doel. Alles word sover moontlik hergebruik of herwin. Dit is iets waarop ons baie trots is,” sê Busch.

Die winkel se reeks sluit tweedehandse klere, baba- en kinderklere, boeke, ­huis- ware en selfs aand- en trourokke in.

Siyabonga Care Village vier vanjaar ook sy 21ste bestaansjaar. Die inkomste uit Krap & Koop dra by tot die organisasie se verskeie programme, waaronder ondersteuning aan mishandelde vroue, mense met gestremdhede en pasiënte wat ná siekte of ‘n operasie herstel.

Die winkel se fokus op hergebruik beteken dus dat ‘n ongebruikte item nie noodwendig aan die einde van sy bruikbare lewe is nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 August 2026
    Weslander E-Edition – 27 August 2026

Gift this article