Die Springbok-7’s-span het onlangs die HSBC-SVNS-Wêreldkampioenskapstitel gewen, met Tristan Leyds sowel as die Weskusser Shilton van Wyk, wat Sondag 7 Junie by die HSBC SVNS-toekennings 2026 in Bordeaux beloon is.
Leyds het die vierde Suid-Afrikaner geword wat as HSBC-SVNS se Speler van die Jaar gekroon is toe hy Fidji se Vuiviwa Naduvalo en Henry Hutchison van Australië vir die topprys geklop het.
Hy het 124 punte (16 drieë en 22 doelskoppe) in nege geleenthede hierdie seisoen aangeteken, wat die tweede hoogste in die groep was. Van Wyk was boaan die puntelys en drieëtelling met 160 punte (32 drieë) . “Tristan het ons baie redes gegee om gedurende die 2026-seisoen te glimlag en ons almal, wat by Suid-Afrikaanse rugby betrokke is, is baie trots op hierdie nederige en hardwerkende jong man,” het Mark Alexander, die president van SA Rugby, gesê. “Sy vermoë om die res van die span aan te vuur, was iets om te aanskou, maar rugby is ‘n spansport en ek is seker Tristan sal die eerste wees om krediet aan sy spanmaats te gee – die Blitsbokke het ‘n wonderlike seisoen gehad, en ons kan nie wag vir die volgende reeks om te begin nie, met ons HSBC SVNS Kaapstad as een van die eerste stops in die nuwe seisoen.
Droomspan
Van Wyk, ‘n boorling van Saldanha en voormalige Saldanhabaai-rugbyspeler, se insluiting in die HSBC SVNS-Droomspan het weer eens dié Saldanbaaier se vordering in Wêreldrugbysewes beklemtoon. Hy was instrumenteel vir die Blitsbokke op die aanval en verdediging, maar sy vermoë om deurslaggewende drieë in eindstryde aan te teken, was dikwels die deurslaggewende faktor vir die span. Hy was die voorste drieëmaker vir die span hierdie seisoen en om in die Droomspan ingesluit te word, is net ‘n beloning,” het Alexander bygevoeg.
Van Wyk, wat sy plek in die HSBC- SVNS-Droomspan verseker het, het sy dankbaarheid uitgespreek en beklemtoon dat die span se oorwinnings in Kaapstad, Perth, Vancouver, New York en uiteindelik die gesogte Hong Kong-titel ‘n duidelike uiting van hul talent, deursettingsvermoë en eenheid was. “Ons het ‘n groep spelers wat mekaar opreg ondersteun en vir mekaar omgee. Ek glo God het ons geseën met spesiale mense en sterk verhoudings, en dit het die verskil gemaak,” het hy gesê.
Van Wyk het ook ‘n boodskap aan jongmense gerig: “Ongeag waar jy vandaan kom – God het ‘n plan vir jou lewe. Hou aan glo, werk hard, bly nederig en vertrou op Sy tyd. Met geloof, deursettingsvermoë en die regte mense om jou, kan jy baie verder gaan as wat jy ooit gedink het moontlik is.”
Terwyl Van Wyk sy plek in die Droomspan gevier het, het Tristan Leyds geskiedenis gemaak deur as HSBC-SVNS se Speler van die Jaar aangewys te word. Leyds, wat sy seisoen met bestendige vertonings gekroon het, het die eer in Bordeaux ontvang en homself in die geselskap van groot name soos Cecil Afrika (2011), Werner Kok (2015) en Seabelo Senatla geplaas (2016).
Die dubbele erkenning vir Van Wyk en Leyds beklemtoon die Blitsbokke se status as wêreldleiers in sewesrugby en onderstreep die rol van geloof, spanwerk en deursettingsvermoë in hul suksesvolle 2026-veldtog.



