Die Hopefield-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het sy eerste imbizo vir die jaar die afgelope Maandag (8 Junie) aangebied.
Die byeenkoms het by die Hopefield Thusong-sentrum plaasgevind.
Die imbizo het die gemeenskap die geleentheid gebied om hul kommer en kwessies te lug. Wat opvallend was tydens die vergadering, is dat daar nie baie gemeenskapslede teenwoordig was nie.
Riaan Farao, voorsitter van die Hopefield-GPF, meen hierdie tipe vergaderings is belangrik en dat die gemeenskap se veiligheid vir gemeenskapslede ‘n prioriteit moet wees.
Inwoners wat wel teenwoordig was, het kwessies soos immigrasie, rondloperhonde, drank- en dwelmmisbruik, asook sake waarmee die polisie tans besig is, geopper. Dit het ook die geleentheid gebied vir die verskeie rolspelers om terugvoering te gee oor die pad vorentoe.
Kapt. Gotlieb Adams van die Hopefield-polisie het gedeel dat daar sake van inbrake en aanrandings was, veral aanrandings onder die invloed van drank.
Hy sê baie van hierdie soort geweld gebeur binne huise, waar dit moeilik is om te polisieër. Hy het inwoners aangemoedig om nie stil te bly in sulke situasies nie en om hierdie misdade aan te meld.
Adams het ook klem daarop gelê dat ouers ten alle tye bewus moet wees van die bewegings van hul kinders. Dit kan verhoed dat hulle slagoffers of oortreders word. “Ons moet ophou om mekaar te blameer en die misdaad aanspreek, dit bekamp en saamwerk. As ons saamstaan, dan wen ons,” het hy gesê.
Inwoners word aangeraai om die GPF-vergaderings by te woon omdat die GPF as die brug tussen die polisie en die gemeenskap dien.





