Saldanhabaai verdedig al wat hy kan, terwyl Vredenburg net een doel voor oë het – om te wen.

Burg Boys bly staande

Saldanhabaai verdedig al wat hy kan, terwyl Vredenburg net een doel voor oë het – om te wen.

VREDENBURG – Oor die afgelope twee weke is daar baie bespiegel oor een van die grootste derby- kragmetings op die Weskus: die stryd tussen Vredenburg se Burg Boys en Saldanhabaai.

Die afgelope Saterdag (8 Augustus) het lojale ondersteuners van Saldanhabaai die 15-minute-rit van Saldanha na Vredenburg aangepak om die tweede derby-kragmeting tussen dié twee spanne op die Vredenburg-sportgronde met arendsoë te volg.

Vir die Burg Boys was dit nie net ‘n wedstryd van kardinale belang nie, maar ook ‘n kans om sake met hul bure reg te stel nadat hulle vroeër op die Saldanha Transnet-stadion in die doodsnikke verloor het, terwyl dit vir Saldanhabaai, die voorloper in die kompetisie, die geleentheid was om te wys dat hulle die Burg Boys ook op hul tuisveld kan klop.

Vredenburg het goed begin, met Gregan Papier wat ná 14 minute ‘n strafskop oorgeskop het, ná Saldanhabaai vir onkantspel by ‘n losskrum gestraf is.

Saldanhabaai het onmiddellik teruggeslaan met Sinethembha Nkolomba wat ‘n drie gedruk het. Die doelskop is gemis en Saldanhabaai het met 5-3 voorgeloop.

Vredenburg het daarna tot binne Saldanhabaai se 22-meter-merk gevorder en Papier het in die 17de minuut ‘n skepskop deur die pale gestuur om Vredenburg met 6-5 voor te plaas. Goeie balbesit het hierna tot Leano Haupt se drie gelei. Papier kon nie die doelskop oorskop nie en Vredenburg het met 11-5 voorgeloop.

Saldanhabaai het met ‘n verdoelde drie deur Mikyle Hanse teruggeslaan om die telling tot 11-8 te verklein. ‘n Gevaarlike hoogvat het tot ‘n geelkaart vir Vredenburg gelei. Saldanhabaai het daarna ‘n verdoelde drie gedruk om met 15-11 voor te loop.

Vredenburg se druk het Saldanhabaai tot foute gedwing en ‘n professionele fout het tot ‘n strafdrie in die 30ste minuut gelei. Die Burg Boys het met 18-15 voorgeloop en dié telling het tot rustyd onveranderd gebly.

Ná rustyd het Saldanhabaai met hernieude krag aangeval en Nkolomba het sy tweede drie gedruk, maar die doelskop is gemis. Saldanha se voorsprong was egter van korte duur. Papier se skopvoet het in die 59ste minuut weer drie punte opgelewer nadat Saldanhabaai vir onkantspel gestraf is, wat die Burg Boys met 21-20 voorgeplaas het.

Met vars bene in die laaste 10 minute het die twee spanne mekaar behoorlik opgekeil. Saldanhabaai het in die 71ste minuut ‘n strafskop afgestaan en Thurlon Williams, wat Papier vervang het, het dit suksesvol deur die pale gestuur om die Burg Boys met 24-20 te laat voorloop.

Vredenburg kry in die eerste helfte die bal in 'n lynstaan.
Vredenburg kry in die eerste helfte die bal in ‘n lynstaan. Foto’s: Alida Buckle

Saldanhabaai het die laaste agt minute alles in die stryd gewerp, maar die Burg Boys se verdediging het staande gebly. Die wedstryd het met 24-20 geëindig.

Met dié oorwinning is Vredenburg nou net vier punte agter Saldanhabaai, wat steeds die voorloper is, maar ‘n wedstryd minder as Saldanhabaai gespeel het.

Nes voorspel, stuur die Weskus-rugbyseisoen op ‘n opwindende einde af.

Ander Weskus-uitslae: Piketberg 68-21 Paternoster, Saldanha Tigers 34-32 Velddrif, Goedverwacht 18-53 Young Hearts, Langebaan 22-17 Hopefield, St. Helenabaai 41-6 Steenberg’s Cove.

Wedstrydbepalings vir die komende Saterdag (15 Augustus): Vredenburg t. St. Helenabaai, Saldanhabaai t. Velddrif, Piketberg t. Young Hearts, Paternoster t. Goedverwacgh, Langebaan t. Saldanha Tigers, Hopefield t. Steenberg’s Cove.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 August 2026
    Weslander E-Edition – 13 August 2026

Gift this article