Die lang verwagte derbystryd tussen Saldanha en Vredenburg se Burg Boys het uiteindelik in ideale weerstoestande aan die beurt gekom. Ondersteuners is die afgelope Saterdag (2 Mei) op klipharde Weskusrugby getrakteer waar Saldanhabaai die Burg Boys se heerskappy die eerste keer in drie jaar verbreek en ‘n eenpuntoorwinning van 24-23 losgespeel het.
Dit was gewis ‘n derbystryd wat ondersteuners van die afskop af totdat die eindfluitjie geblaas het op hul tone gehou het. Ondersteuners van al twee spanne was op die punt van hul sitplekke geanker en wou nie waag om te beweeg nie, want hulle was bang hulle mis iets van al die aksie.
Dit was ‘n wedstryd wat ondersteuners vir fisieke kragspel, opwindende oomblikke se hardlooprugby en balvernuf van die eerste tot die 80ste minuut van hoë intensiteit en drama sal onthou.
Die opwindende Craig van Rensburg het Saldanha se eerste punte met ‘n drie aangeteken toe hy die doellyn van die Burg Boys oorgesteek en verdoel het, wat die gasheer ‘n 7-0-voorsprong gegee het.
Saldanha het egter ‘n vroeë terugslag in die agtste minuut beleef toe sy kaptein, Samuel Greyling, met ‘n rooi kaart afgestuur is, wat die gasheer tot 14 man vir twintig minute van die wedstryd verminder het. Vredenburg se Renaldo Karolus is ook tydens die voorval met ‘n geelkaart beboet en moes vir 10 minute gaan afkoel.
Vredenburg het egter vinnig gereageer en teruggeslaan toe sy senter Rahul Hartzenburg in die 15de minuut oor die doellyn gesnel en die telling laat krimp het.
Met die momentum aan die opbou en ná nog ‘n paar minute het die Burg Boys se agtsteman, Leano Haupt, opwinding opgelewer deur die besoekers ‘n 12-7-voorsprong met die verdoelskop van die drie te gee.
Die Burg Boys het hul voorsprong met nog ‘n strafskop gerek, wat die telling tot 15-7 verander het – steeds ten spyte van hul kaptein (Greyling) wat Saldanha se skare in stilte gelaat het, maar hulle het geweis geweier om onder druk te vou.
Geelkaart
‘n Geelkaart aan Casweld Cloete het die Burg Boys weer eens tydelik tot veertien man verminder, wat dissiplineprobleme beklemtoon het. Met Van Rensburg wat koelkomkommer onder die hoë balle was, het hy met twee deurslaggewende strafskoppe net voor rustyd die agterstand tot 13-15 vernou, wat die gasheer stewig in die prentjie gehou het.
Albei afrigters het rustyd harde woorde vir die manne gehad en met die tweede helfte se afskop was dit duidelik dat al twee spanne alles in die stryd gaan werp om hul onoorwonne status te beskerm. Die vraag was net – wie sou bo uitkom?
Saldanha het met ‘n effense briesie in die lug daarvan gebruik gemaak en hom met goeie spel stadig maar seker met slim spel in die wedstryd teruggewerk.
‘n Strafskop van Monray Jacobs het die besoekers se voorsprong tot 13-18 vergroot voordat Saldanha ook met ‘n strafskop geantwoord het om dit tot 16-18 te laat krimp.
Met die aanbreek van die laaste 20 minute en net twee punte verskil was die wedstryd op ‘n borrelpunt.
Maar toe druk die Burg Boys se Leano Haupt sy tweede drie van die wedstryd en die telling vergroot tot 23-16, wat dit laat lyk het asof die Burg Boys die Saldanhabaaiers met net twaalf minute oor ‘n uitklophou toegedien het.
Koel en kalm
Soos in die Sanlam-Boland-Top-12-eindstryd teen Roses United het Samuel Greyling en sy manne koel en kalm gebly en die Burg Boys tot foute gedwing. Die kollig is weer na die Burg Boys verskuif toe Curtley Jeffries (flank) ‘n derde geelkaart vir die besoekers ontvang het.
Hierdie terugslag het Saldanhabaai hernieude krag gegee en hul buurman gewys jy wen nie groot wedstryde voordat die eindfluitjie geblaas het nie.
Met hul ondersteuners se bekende koorsang van die pawiljoen af het Saldanha sy kliniese aanvalle begin afstuur. Met nog ses minute oor het Sashin Dirks in die hoek gaan druk, maar ongelukkig was die doelskop mis en die agterstand is tot 21-23 verminder.
Met die wedstrydtyd verstreke was dit net die skeidsregtertyd wat bepaal het dat Saldanha steeds ‘n kans het. Hul komkommerkoel houding het hulle in menige wedstryde laat terugbons, wat hulle ook Saterdag ‘n laaste strafskopgeleentheid besorg het.
‘n Groot taak het op Van Rensburg se skouers gerus, maar soos in menige wedstryde het hy kalm gebly en die bal sekuur tusen die pale deurgejaag en sodoende gehelp dat Saldanhabaai die Burg Boys ná drie jaar wen – die telling 24-23.
Die oorwinning was van sentimentele waarde vir Saldanhabaai, wat hul agtste agtereenvolgende oorwinning behaal het en die Burg Boys se houvas van die laaste drie seisoene op hulle beëindig het.
Ander uitslae
Velddrif 42-29 Saldanha Tigers; Young Hearts 50-12 Goedverwacht; Paternoster 45-38 Piketberg; Hopefield 22-24 Langebaan; Steenberg 15-40 St. Helenabaai.





