Sinethemba Nkolomba van Saldanha met die bal tydens sy span se wedstryd teen Hopefield. Foto: Bernadatte Louw Sport Photography

Stryd om 2de plek in Weskus Grootuitdaagbeker lê voor

Sinethemba Nkolomba van Saldanha met die bal tydens sy span se wedstryd teen Hopefield. Foto: Bernadatte Louw Sport Photography

Die Weskus Grootuitdaagbeker-kompetisie is nou in die laaste pylvak en vir Vredenburg, St. Helenabaai, Young Hearts en Velddrif is die laaste wedstryde van kardinale belang.

‘n Fout kan beteken dat hul kanse om die uitspeelronde te haal al skraler word.

Die afgelope Saterdag (18 Julie) het Paternoster se eerste span op sy tuisveld, die Paternoster-sportterrein, teen die St. Helenabaai Albatrosse te staan gekom.

Die besoekers se voorspelers het van vroeg af die toon aangegee en die wedstryd grootliks oorheers.

Paternoster, wat deur die seisoen uitstekende rugby opgedis het, het hom egter teen ‘n sterk Albatros-span vasgeloop wat hom van meet af met aanvallende spel onder druk geplaas het.

Die Albatrosse het seker gemaak dat Paternoster geen beweegruimte gegun word nie, want Paternoster kan die gang van ‘n wedstryd in ‘n oogwink verander as hy nie in toom gehou word nie.

Die eerste helfte was taai en kliphard, met Paternoster meestal op die verde- diging terwyl daar nie eintlik sprake van balbesit was nie. Dit het dié span beperkte geleenthede gebied om sy spelplan uit te voer.

Die Albatrosse het seker gemaak dat hulle in beheer van sake bly en teen rustyd reeds met 20-5 voorgeloop ná goeie, gekonstrueerde spel tussen die voor- en agterspelers.

Die Albatrosse het Paternoster se verdediging by tye wankelrig laat voorkom, veral wanneer die bal vinnig langs die lyn afgestuur is om kundig spoed met krag te kombineer.

Dit het Paternoster verhinder om afbreekpunte te vertraag of te teiken, wat die Albatrosse die geleentheid gegee het om momentum te behou en die oorwinning te verseker, sê die afrigter.

Die Albatrosse se oorwinning van 46-20 oor Paternoster het hul kanse verder ‘n hupstoot gegee en hulle nou op gelyke voet met Hearts geplaas.

Die Burg Boys het hul goeie vorm van die laaste paar wedstryde gehandhaaf en ‘n oorwinning oor Langebaan behaal wat hulle op koers hou. Met hulle en die Albatrosse wat een wedstryd minder as die ander spanne gespeel het, gaan die laaste wedstryde van kardinale belang wees vir die vier spanne wat om die tweede posisie meeding.

Saldanhabaai het weer eens sy meesterskap oor Hopefield getoon deur met ‘n oorweldigende 62-14 te wen en sy voorsprong van sewe punte oor sy naaste teenstander, die Burg Boys, behou het.

Hearts het weer die derde plek ingeneem nadat ‘n naelskraapse oorwinning van 33-31 oor Velddrif hul vlammetjie lewendig gehou het.

Die Albatrosse sal die komende naweek se wedstryd op Albatrospark wil gebruik om sake reg te stel nadat hulle in die eerste ronde teen Hearts op die Grafkelder vasgeval het.

Ondersteuners kan hulle gereed maak vir ‘n opwindende einde aan die laaste Grootuitdaagbeker-wedstryde van die Weskus en kan nie bekostig om ‘n wedstryd mis te loop nie.

Uitslae:

Paternoster 20-46 St. Helenabaai;

Hopefield 14-62 Saldanhabaai;

Langebaan 27-39 Vredenburg;

Young Hearts 33-31 Velddrif;

Saldanha Tigers 54-19 Goedverwacht;

Steenberg Cove 15-38 Piketberg.

Wedstrydbepalings vir 25 Julie:

St. Helena t. Young Hearts;

Vredenburg t. Paternoster;

Saldanha t. Langebaan;

Piketberg t. Goedverwacht;

Velddrif t. Steenberg Cove; en

Hopefield t. Saldanha Tigers.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 July 2026
    Weslander E-Edition – 30 July 2026

Gift this article