Vredenburg het kragte gemeet met Young Hearts op Saterdag 1 Augustus. FOTO: Ivanka Engels.
Vredenburg het kragte gemeet met Young Hearts op Saterdag 1 Augustus. FOTO: Ivanka Engels.

GROOTUITDAAG | Vredenburg verdryf Grafkelder-spook op Pella


PELLA – Vredenburg se Burg Boys het Saterdag 31 Julie na Pella gereis om die onvoorspelbare Young Hearts op die berugte Grafkelder-rugbyveld aan te durf, in ’n wedstryd wat groot implikasies vir die stryd om die tweede plek in die Boland- Weskus Grootuitdaagbeker sou inhou.

Ná Young Hearts se nederlaag teen die Albatrosse in St. Helenabaai die vorige naweek, het die tuisspan geweet hulle sou diep moes delf om hul vesting te beskerm.

Die Burg Boys was egter ewe bewus daarvan dat oorwinnings op die Grafkelder skaars is en dat besoekende spanne selde met die volle buit daar wegstap. Hulle beklee tans die tweede plek en het met selfvertroue opwindende rugby gespeel, met net een doel voor oë: om die spreekwoordelike spook van die Grafkelder finaal te verjaag.

Almore Kuilders op die aanval met die bal in die hand,
Almore Kuilders op die aanval met die bal in die hand, terwyl Curtley Jeffries langs hom ondersteun en Gregan Papier in die agtergrond volg. Foto: Ivanka Engels

Van die eerste afskop af was dit duidelik dat geen span ’n tree sou terugstaan nie.

Die voorspelers het mekaar hard getakel en min ruimte vir enige aanvallende beweging gelaat.

Toe die bal uiteindelik vinnig deur die hande beweeg, was dit Ruan Kleinsmith wat deur Young Hearts se verdediging gebars het om die besoekers se rekening met ’n puik drie te open.

Gregan Papier het die doelskop suksesvol oorgestuur.Young Hearts het gesukkel om ritme te vind, terwyl die Burgboys hul teenstanders met gedissiplineerde verdediging en gevaarlike teenaanvalle onder druk gehou het.

Die glibberige Dillano Matthison het daarna sy blitsige spoed op die buitebaan benut om sy teenstander in die wind te laat gryp en nog ’n uitstekende drie te druk.

Papier was weer akkuraat met die skopskoen en die rustydtelling was 14–0.Afrigter Reuben Abels se rustydpraatjie het egter nuwe vuur in Young Hearts aangesteek.

Ná die hervatting het die tuisspan met twee verdoelde drieë teruggeslaan om skielik met 21–14 voor te loop en die Grafkelder weer te laat dreun.Die Burgboys het egter karakter getoon.

Hul voorspelers het geduldig fase ná fase opgebou en Young Hearts diep in hul eie 22-meter-gebied vasgepen.

Die volgehoue druk is uiteindelik beloon toe Ethan Engelbrecht oor die doellyn gaan druk. Papier het die telling met nog ’n suksesvolle doelskop gelykop gemaak op 21–21.Met die son wat stadig oor Pella begin sak het, het beide spanne alles in die stryd gewerp.

Young Hearts het met vars bene die Burgboys in die laaste minute beproef, maar die besoekers se verdediging het vasgestaan.

Toe die geleentheid hom voordoen, het invaller Waylen Meyer sy ervaring gewys deur in die doodsnikke van die wedstryd die wendrie te druk. Papier het weer geen fout gemaak nie en die Burgboys met ’n 28–21-oorwinning laat seëvier.

Dit was ’n wedstryd wat die gehalte van Boland-klubrugby onderstreep het. Vir Young Hearts is die wedloop om die tweede plek nou feitlik verby, terwyl die Burgboys se kanse verder versterk is ná St. Helena en Velddrif se 24–24-gelykopuitslag.

Die Burgboys wag nou twee reuse-toetse wanneer hulle eerskomende naweek die kampioen Saldanha pak, gevolg deur die Albatrosse – twee spanne wat hulle vroeër vanjaar geklop het.

Ondersteuners kan hul gereed maak vir ’n opwindende einde aan die Boland- Weskus Grootuitdaagbeker.

Uitslae:
• Young Hearts 21–28 Vredenburg
• Paternoster 41–50 Saldanha
• Saldanha Tigers 41–36 Piketberg
• St. Helena 24–24 Velddrif

Op Saterdag 8 Augustus lyk die wedstryde soos volg (tuisspanne eerste):
• Vredenburg vs. Saldanha
• Saldanha Tigers vs. Velddrif
• Goedverwacht vs. Young Hearts
• Piketberg vs. Paternoster
• Langebaan vs. Hopefield
• St. Helena vs. Steenberg Cove

  • Pella is ‘n klein historiese sendingnedersetting naby Atlantis en Mamre in die Stad Kaapstad se munisipale gebied.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 July 2026
    Weslander E-Edition – 30 July 2026

Gift this article