Leanu Haupt met die bal, met Curtley Mitchells (links) en Almore Kuilders (regs), wat hom ondersteun. Foto: Ivanka Engels

Top-spanne bal nog vuis

Leanu Haupt met die bal, met Curtley Mitchells (links) en Almore Kuilders (regs), wat hom ondersteun. Foto: Ivanka Engels

Ses spanne veg vir die Weskus- Grootuitdaagbekerkompetisie se twee topposisies, wat op ‘n klimaks afstuur.

Vredenburg, een van die voorlopers, het op 4 Julie na Piketburg gereis om die tuisspan, Piketberg Rhinos, in hul agterplaas aan te durf. Dit was hul eerste wedstryd van die tweede ronde nadat hul wedstryd ‘n week gelede teen Goedverwacht nie plaasgevind het nie vanweë die Snoek-en-Patatfees.

Die Burg Boys het gewys hul vier weke awesigheid het geensins hul spelpeil beïnvloed nie, en het van die afskop af die Rhinos laat les opsê. Pragspel tussen voor- en agterspelers het Linathi Jack in staat gestel om die Burg Boys se eerste punte op die telbord te plaas.

Goeie hardlooprugby en voorspelerspel is deur die Burg Boys uitgestal, wat gelei het tot vier verdere drieë deur Ruan Kleinsmith, Clement Lewies en Dillano Mathison. Dorehano Carolus het nege punte met die skoen bygedra deur drie doelskoppe en ‘n strafskop oor te klits. Terwyl die Rhinos met net ‘n onverdoelde drie kon antwoord om die rustydtelling op 29-5 te staan te bring.

Hoewel die Rhinos goeie weerstand aan die begin van die tweede helfte gebied het, kon hulle nie die Burg Boys se kragtige voorspelers en blitsige aanvalle stuit nie.

Met die Burg Boys wat die tempo verhoog het, het die Rhinos onder druk gevou, wat gelei het tot nog drie drieë deur Curtley Jeffries, Riwaldo Strauss en Wilbur Smeda.

Monray Jacobs het vier punte met die skoen bygedra met twee doelskope, terwyl die Rhinos met ‘n verdoelde drie geantwoord het om die eindtelling op 48-12 te staan te bring.

Met die oorwinning het die Burg Boys hul agterstand op Saldanhabaai met sewe ligapunte verminder(57), met ‘n wedstryd minder. Met deurslaggewende wedstryde teen St. Helenabaai, Saldanhabaai tuis en Young Hearts weg, stuur die laaste agt wedstryde op ‘n opwindende einde af tussen die top-ses spanne van die Weskus.

Hearts verslaan Pato

Young Hearts van Pella het ook hul aansien versterk toe hulle Paternoster op die Grafkelder met 48-34 verslaan het en nog vyf waardevolle ligapunte ingesamel om op die voorlopers se hakke te bly.

Velddrif het ook sy aanspraak verhoog toe hy Langebaan naelskraap met 35-34 geklop het op Langebaan, terwyl Saldanha in Goedverwacht ‘n vytigtal behaal het en sy voorsprong met sewe punte bo die Burg Boys gelig het.

St Helenabaai, wat ook nog in die wedloop is, het Hopefield met 39-37 geklop en hul hoop op ‘n tweede plek lewendig gehou. Met drie bepalende wedstryde tuis teen Young Hearts en weg teen die Burg Boys en Saldanhabaai kan dit net die Albatrosse se spelpeil lig.

Met ‘n paar verrassings wat moontlik wag, stuur die Weskus-Grootuitdaagbekerkompetisie op ‘n klimaks af met die ses top-spanne wat steeds hard baklei vir die twee top-posisies van die Weskus.

Ander uitslae:

Goedverwacht 19-52 Saldanhabaai, Hopefield 37-39 St. Helenabaai, Langebaan 34-35 Velddrif, Piketberg 12-48 Vredenburg, Saldanha Tigers 47-21 Steenberg’s Cove, Young Hearts 48-34 Paternoster.

Wedstrydbepalings vir Saterdag 11 Julie:

Saldanha Tigers t.Young Hearts, Velddrif t. Paternoster, St Helenabaai t. Langebaan, Vredenburg t. Hopefield, Saldanhabaai t. Piketberg, Goedverwacht t. Steenberg’s Cove.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article