Ná 38 jaar in die onderwys lê Zelda Constant, ‘n onderwyseres van St. Andrews Primêr in Saldanha, die tuig neer.
Constant het destyds haar onderwysloopbaan by St. Helenabaai Primêr begin waar sy vir twee jaar gr. 8- en gr. 9-leerders onderrig het voordat sy vir die volgende 36 jaar as gr. 4-onderwyseres by St. Andrews Primêr diens gedoen het.
Haar begeerte om ‘n verskil in ander se lewe te maak, het haar geïnspireer om ‘n onderwyseres te word.
Een van haar grootste hoogtepunte was om haar leerders akademies en persoonlik te sien groei, en as kunsonderwyseres het sy dit veral geniet om leerders se kreatiwiteit te ontwikkel en hulle aan te moedig om hulself deur kuns uit te druk.
Nog ‘n bron van trots is die respek wat oudleerders vandag steeds aan haar betoon.
“Dit wys vir my dat ek ‘n positiewe en blywende verskil in hul lewe gemaak het,” sê sy.
“Die belangrikste les wat ek my leerders wou leer, is dat jou omstandighede nie jou toekoms bepaal nie. Ek was as kind nie so bevoorreg soos baie ander nie, maar deur harde werk, deursettingsvermoë en geloof in myself het ek my doelwitte bereik.
“Ek hoop hulle onthou dat geen droom te groot is as jy bereid is om daarvoor te werk nie,” vertel sy.
Constant sê sy is dankbaar vir ‘n vervullende loopbaan en trots op die verskil wat sy in die lewe van haar leerders kon maak.
“Ek neem kosbare herinneringe saam met my en sien met opgewondenheid uit na die nuwe hoofstuk wat voorlê.”
In haar aftrede sien Constant daarna uit om haar naweke ten volle te geniet. Ná jare waarin naweke dikwels aan skoolwerk gewy is, meen sy dit sal ‘n voorreg wees om meer tyd vir rus, familie en persoonlike belangstellings te hê.
In haar afskeidsboodskap moedig Constant haar leerders aan om in hulself te glo, hard te werk, ander met respek te behandel en nooit op te hou droom nie.
Aan haar kollegas spreek sy haar waardering uit vir die belangrike rol wat hulle elke dag in kinders se lewe speel, terwyl sy ook die gemeenskap bedank vir hul vertroue en ondersteuning deur die jare. “Ek groet julle met dankbaarheid en wens elkeen net die beste toe. Mag julle altyd ons skool se leuse uitleef: ‘Strive for Success.’ Hou aan droom, hou aan groei en streef altyd na sukses,” het Constant bygevoeg.





