Vrydag 23 Oktober – Joshlin Smith se derde verjaarsdag as vermiste kind

Joshlin Smith word 8 in absentia. Foto: Diazville Primêr
Joshlin Smith word 9 in absentia. Foto: Diazville Primêr

Vrydag 23 Oktober – Joshlin Smith se derde verjaarsdag as vermiste kind


SALDANHA – Môre, Vrydag 23 Oktober, word Joshlin Smith nege jaar oud. Maar in plaas daarvan om haar verjaarsdag saam met familie en vriende te vier, sal die gemeenskap weer ‘n aangrypende herdenking in absentia hou vir die dogtertjie wat steeds soek is sedert 19 Februarie 2024.

Dit is nou die derde verjaarsdag wat Joshlin as vermiste kind moet vier – ‘n hartseer mylpaal wat die pyn en onsekerheid van haar verdwyning beklemtoon.

Sy was ses jaar oud toe sy spoorloos uit die Middelpos- informele nedersetting in Diazville verdwyn het, geklee in ‘n ligblou hempie en denim-kortbroek.

Joshlin Smith (7) met los hare soos op die dag van haar verdwyning. <br><br><strong>  </strong>
Joshlin Smith (7) met los hare soos op die dag van haar verdwyning.

Haar ma, Kelly Smith, het haar daardie aand by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aangemeld, maar die soektog het tot vandag toe geen spoor van die dogtertjie gelewer nie.

Die afgelope twee jaar het die gemeenskap geweier om hoop te verloor. Diazville Primêr, die skool waar Joshlin ‘n leerder was, het verlede jaar op haar verjaarsdag ‘n ontroerende herdenking gehou. Leerders en onderwysers het gebid, ‘n boom van herinnering geplant, kerse aangesteek en saamgesing – insluitend haar gunstelinglied “God will work it out“. ‘n Herinneringsbord met briefies van leerders is opgestel en ‘n spesiale skildery is geskenk om haar nagedagtenis lewend te hou.

Die ondersoek na Joshlin se verdwyning het reeds tot skuldigbevindings en strawwe gelei, maar geen antwoorde oor waar sy haar bevind nie.

Kelly Smith, haar kêrel Jacquen “Boeta” Appollis, en Steveno van Rhyn is in 2025 skuldig bevind aan mensehandel en ontvoering. Op 29 Mei 2025 het die hof lewenslange tronkstraf vir die mensehandelaanklag en 10 jaar vir ontvoering opgelê. Die staat het getuienis voorgelê dat Joshlin aan vreemdelinge verkoop is, moontlik aan ‘n sangoma vir ongeveer R20 000.

Die drie veroordeeldes het gepoog om die uitspraak te appelleer, maar op 13 Augustus 2025 is hul appèlaansoeke deur die hof afgewys.

Boeta Appolis, Steveno van Rhyn en Kelly Smith in die beskuldigdebank. Foto: Alida Buckle
Boeta Appolis, Steveno van Rhyn en Kelly Smith in die beskuldigdebank. Foto: Alida Buckle

Vrae bly onbeantwoord

Die vonnisse staan dus vas, maar vir Joshlin se familie en die gemeenskap bly die brandende vraag onbeantwoord: Waar is sy?

Kol. André Traut van die polisie se taakspan het herhaaldelik beklemtoon dat die ondersoek steeds aktief is. “Ons is bewus van die publieke belangstelling. Alle inligting word ontvang en beoordeel, en waar nodig, gevolg,” het hy gesê.

Die polisie werk deur gevestigde ondersoekprosesse om die relevantheid en geloofwaardigheid van leidrade te bepaal. Die prioriteit bly om Joshlin op te spoor en antwoorde aan haar familie te gee.

Die polisie het ook die publiek gewaarsku teen ongeverifieerde plasings op sosiale media wat valse hoop kan skep. Die ondersoekspan hanteer inligting professioneel en volgens streng prosedures.

In ‘n meningsartikel wat in Weslander verskyn het, word die hartseer pleidooi gemaak: “Sê net vir ons waar sy is, asseblief. Ons vra mooi.”

Die hartseer en frustrasie is tasbaar, maar die ondersoekspan verdien ook erkenning vir hul volgehoue toewyding aan die saak.

Terwyl Joshlin se nege jaar môre in stilte verbyglip, hou die gemeenskap vas aan hoop – hoop dat iemand, êrens, die antwoorde sal bring wat haar familie, grootmaakouers en gemeenskap so desperaat soek.

LEES OOK: MENING | Sê net vir ons waar sy is, asseblief; ons vra mooi

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 22 October 2026
    Weslander E-Edition – 22 October 2026

Gift this article