VELDDRIF – “God het my in die volheid van Sy hand gedra vir 100 jaar.”
Só beskryf Koos Adams sy lewensreis nadat hy die afgelope Vrydag (9 Oktober) sy 100ste verjaardag saam met familie en vriende by die Noordhoek-gemeenskapsaal gevier het.
Wanneer hy terugkyk oor ‘n eeu, onthou hy moeilike tye, trane en oomblikke waarin hy gedink het hy nie sou oorleef nie. “Ek het harde bene gekou en baie trane gehuil, maar die Here was nog altyd my redding. Ek kan self nie glo ek het 100 jaar gehaal nie,” vertel hy aan Weslander.
Oom Koos het groot veranderinge in sy leeftyd beleef, maar glo een ding het onveranderd gebly: “Ek kan sien mense verander, maar God verander nooit nie.”
Hy vertel van moeilike tye waarin hy onseker was oor sy voortbestaan. “Daar was tye waar ek gedink het ek sou nie oorleef nie, maar dan kom die Here en vat my hand.”
Sy lewensreis het hom ook in die veld en tussen wilde diere laat slaap, waar hy soms die dood in die oë gestaar het.
Steeds selfstandig op 100
Hoewel ouderdom sy uitdagings bring, bly Oom Koos aktief en selfstandig.Hy het artritis, is gedeeltelik blind en hardhorend, maar stap steeds, werk in die tuin en maak sy huis self skoon.
Oom Koos het vroeër op plase en by die Suid-Afrikaanse Vloot in Saldanha gewerk en later as skoonmaker by die Laerskool Diazville diens gedoen. Hy woon die afgelope agt jaar in Velddrif.
Sy vrou, Louisa Adams, is in 1985 oorlede. Hy het ‘n dogter, drie kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Nederigheid as lewensles
Sy raad aan die jonger geslag is eenvoudig: “Moet nooit jou eie ek hoog stel nie. Wees nederig.”Hy moedig mense aan om stil te raak wanneer hulle benoud voel, hulself te ondersoek en God se leiding te soek.
Op 100 jaar bly sy boodskap een van geloof, nederigheid en dankbaarheid – waardes wat hom deur ‘n eeu se uitdagings gedra het.
LEES OOK: Tannie Kriel vier haar honderdste jaar





