Die personeel van ACVV Huis Nerina saam met Tannie Helen Kriel (middel).

Om die 100-jaar-mylpaal te bereik is sowaar ‘n prestasie in iemand se lewe.

Tannie Helen Kriel, ‘n inwoner van ACVV Huis Nerina in Porterville, het haar 100ste verjaarsdag op Vrydag 3 April gevier.

Haar geheim vir dié mylpaal is haar goeie gesondheid en haar daaglikse “Word Search” wat haar kop helder en wakker hou.

Een van die tydperke in haar lewe wat baie vir haar beteken het, was haar kinderjare. “Ons het arm grootgeword en nadat my pa vroeg oorlede is, moes my ma alleen na die ses kinders omsien. Dit was egter ‘n tyd van geborgenheid en liefde, iets wat ver meer werd was as geld.”

Tannie Kriel is sedert 1999 ‘n inwoner van ACVV Huis Nerina op Porterville en is die dag voor haar 100ste omtrent bederf. Die ouetehuis het die dag voor haar verjaarsdag vir haar en haar twee kinders met ‘n heerlike ontbyt bederf, en Ray van Rooy, burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, het haar ook met ‘n besoek verras om haar persoonlik geluk te wens. Haar kinders en familie het ook ‘n verrassingsbyeenkoms vir haar op haar verjaarsdag gehou.

Om 100 jaar te haal, meen Tannie Kriel, “‘n mens moet die lewe aanvaar soos dit is en nie in die verlede leef nie, gelukkig wees en liefhê.”

Haar raad vir die jonger geslag is eenvoudig, “wees net lief vir mekaar”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article