VREDENBURG – Met 41 jaar se ervaring in die gesondheidsbedryf, waarvan 32 jaar uitsluitlik in teaters deurgebring is, bring die nuwe verpleegkundige hoof van Huis Wittekruin ’n skatkis van kennis, ervaring en ’n besondere passie vir mense na die versorgingsoord in Vredenburg.
Suster Susan Jacobs het haar opleiding in 1985 by Tygerberg-hospitaal begin, waar sy die eerste tien jaar van haar loopbaan gewerk het. Daarna het sy by Swartland-hospitaal aangesluit en tot 1997 daar gewerk. Toe die teater by Life Hospitaal in Vredenburg geopen het, het sy ook daar haar kundigheid ingespan.
Haar loopbaan het haar vervolgens na Kimberley, Worcester en Robertson geneem, voordat sy die laaste vyf jaar van haar loopbaan by die Dr. Van Niekerk-hospitaal in Namakwaland deurgebring het. Sy het aan die einde van Maart 2026, ná vier dekades in die gesondheidsbedryf, haar loopbaan in dié sektor afgesluit.

Maar aftrede was nie heeltemal op haar agenda nie. “Ek is nog nie 65 jaar oud nie en voel nog fiks en gesond. Toe ek die geleentheid kry om by Huis Wittekruin betrokke te raak, het ek dit aangegryp,” vertel sy.
Vir haar is die versorging van bejaardes ’n voorreg. “Al is hulle al oud, behoort hulle steeds die geleentheid te kry om voluit te leef.”
Dit is juis dié ingesteldheid wat sy graag in haar nuwe rol wil uitleef. Jacobs sien haarself nie as iemand wat alleen verandering moet bring nie, maar as deel van ’n span.
“Ek wil baie graag saam met hierdie besonderse groep mense, ‘Team Huis Wittekruin’, die ouetehuis neem tot op die vlak van een van die beste ouetehuise in die wêreld.”
Haar visie strek egter verder as net die fisiese versorging van inwoners. Sy wil hê Huis Wittekruin moet ’n plek wees waar inwoners steeds waardevol, aktief en deel van die gemeenskap voel.
Haar boodskap aan inwoners, hul families en die breër Vredenburg-gemeenskap is eenvoudig, maar kragtig: ’n mens se lewe eindig nie wanneer jy oor die drumpel van Huis Wittekruin tree nie.
Volgens haar verdien elke inwoner die geleentheid om steeds nuwe herinneringe te maak, vreugde te ervaar en die lewe ten volle te geniet.
Met haar uitgebreide ervaring in die gesondheidsbedryf, haar liefde vir mense en ’n duidelike visie vir die toekoms, is sy gereed om saam met die inwoners, personeel en gemeenskap van Vredenburg ’n nuwe hoofstuk vir Huis Wittekruin te begin.





You must be logged in to post a comment.