VELDDRIF – Diereliefhebbers het hul kommer uitgespreek oor die verwydering van katte by die Velddrif River Restaurant & Shipwreck Bar in Velddrif.
Varenke la Grange, eienaar van Shipwreck, versorg al ‘n geruime tyd ‘n groep katte wat by die perseel woon. Sy voorsien hulle van twee etes ‘n dag en sorg dat hulle vars water het. Daarby gee sy tonne aandag en liefde. Sy werk ook nou saam met die Velddrif Animal Care om te sorg dat al die katte gesteriliseer word.
Wetstoepassers het volgens La Grange op Woensdag 12 Augustus by Shipwreck aangekom met die doel om al die katte summier te verwyder. Hulle kon net een van die katte gevang kry, maar hul optrede teenoor die katte het La Grange ontstel.

Katliefhebbers en La Grange is bekommerd nadat daar net volgens haar eensydig besluit is om die katte wat by die Pelikaanhawe-perseel versorg word, te verwyder.
Volgens La Grange was dit vir haar besonder moeilik om te sien hoe die kat verwyder word, sonder om te weet wat die kat se uiteindelike lot sal wees.
Le Grange meen die optrede volg glo op ‘n enkele klagte van mense wat die restaurant besoek het. Volgens haar is die klagtes wat sy ontvang daaroor, baie min, terwyl die meerderheid van die restaurant se besoekers glo geen probleem met die katte het nie. Sommige mense besoek selfs spesifiek die restaurant omdat hulle daarvan hou om die katte te sien.
La Grange benadruk dat die katte nie op tafels spring nie en dat hulle, wanneer hulle wel naby mense by tafels kom, op ’n ordentlike wyse weggewys word.
Die verwydering van die katter het groot reaksie op Facebook ontlok nadat Le Grange plasings oor die voorval gemaak het. Verskeie mense het hul steun vir die katte uitgespreek en meen dat hulle niemand skade aandoen nie en selfs ’n belangrike doel in die omgewing vervul, onder meer deur te help om plae soos rotte onder beheer te hou.
Een Facebook-gebruiker skryf: “Ons was nog gister daar en die katte pla niemand. As daar nie katte by ’n restaurant is nie, veral waar daar meer as een in die omgewing is, raak rotte ’n plaag.”
Die persoon het verder vertel van ’n ervaring by ’n gastehuis in Tuine in Kaapstad, waar rotte volgens hulle ’n ernstige probleem geword het nadat katte wat voorheen die plaag beheer het, gevang is. “’n Kêffiekat is ’n waardevolle besitting,” het die persoon afgesluit.
Nog ’n Facebook-gebruiker het sy of haar steun vir die katte uitgespreek en skryf: “Wie ook al so kla oor die katte en diere in die Pelican, onthou net God het hul vir ons gegee op aarde om na hulle om te sien, en Hy slaap nie.”
Wat La Grange verder bekommer, is dat die katte volgens haar nie maklik geherhuisves kan word nie. Sy sê sy is veral bekommerd omdat daar steeds onsekerheid is oor waarheen die katte geneem word en wat uiteindelik met hulle gaan gebeur.
Die voorval het intussen ’n groter gesprek oor dierewelsyn, verantwoordelikheid en die plek van gemeenskapskatte in die omgewing ontlok.
Terwyl Le Grange en ondersteuners vra dat die katte se welstand in ag geneem word, bly die groot vraag egter, waarheen gaan die katte, en wie gaan verantwoordelikheid neem vir hul uiteindelike veiligheid? Totdat dié vrae beantwoord is, bly die lot van die katte onseker – en die gemeenskap kyk met kommer toe.
Weslander het navraag aan die Bergrivier-munisipaliteit gestuur oor die geval en wag op terugvoering. Die Weskus-dierebeskermingsvereniging het ‘n navraag aan hulle ook na die munisipaliteit verwys.






You must be logged in to post a comment.