Verwaarloosde diere het ‘n groter probleem in die Weskus geword as wat ‘n mens dink.
Diereversorgingskuilings in die Weskus probeer hul bes om die situasie te hanteer, maar daar is baie uitdagings.
Volgens Anja Roworth, voorsitter van Saldanha Animal Care (SAC), is die grootste uitdagings gesondheidsprobleme. Sy meen baie honde kom uit arm gebiede met siektes, wanvoeding, wonde en parasiete wat onmiddellike mediese sorg verg.
“SAC is oorvol weens onverantwoordelike eienaarskap en ‘n gebrek aan sterilisasie, met diere wat eenvoudig weggegooi word. Finansiële druk is konstant, met kostes vir kos, salarisse, veeartsrekeninge, huur en medikasie, terwyl aannemings, veral van groter honde, stadig bly omdat mense eerder klein hondjies verkies.”
SAC sorg reeds vir 55 honde teen volle kapasiteit met baie meer wat hulp nodig het, maar weens die gebrek aan hulpbronne is dit egter nie moontlik nie.
Carol Macdonald, voorsitter van Langebaan Animal Care (LAC), meen die grootste uitdagings wanneer verwaarloosde honde en katte gered en rehabiliteer word, is om hulle so gou as moontlik te plaas waar hulle gemaklik sal voel.
” ‘n Mens moet hul verskillende persoonlikhede assesseer en seker maak dat ons hulle by ander skuilingdiere plaas wat hulle sal aanvaar. ‘n Ander probleem is dikwels dat dit ‘n troeteldier kan wees wat in ‘n huis grootgemaak is en nou die harde werklikheid van ‘n diereskuiling moet trotseer.
‘n Mens kan nie die diere verseker dat hulle oukei sal wees nie. Hulle arriveer dikwels baie bang en weet nie wat met hulle gebeur nie. Ons laat beide honde en katte so gou as moontlik vir siektes nagaan.
Albei instansies deel dieselfde sentiment dat nog ‘n uitdaging die onduidelike rolverdeling is tussen die Swartland/Weskus SPCA en Saldanha-munisipaliteit se wetstoepassers, waar niemand volle verantwoordelikheid neem nie.
Volgens Roworth is daar ‘n tekort aan Swartland/Weskus SPCA-inspekteurs en hulpbronne, en Saldanhabaai-munisipaliteit se wetstoepassers het dikwels nie voertuie om te reageer nie.
“Dit lei tot stadige reaksies en diere wat nie betyds gehelp word nie, en vereis dringende aandag van SBM.”
Die plaaslike Dierebeskermingsvereniging het ook al met Weslander gedeel dat alle diere in openbare ruimtes en strate onder die mandaat van wetstoepassing val en dat hulle verantwoordelik is om hierdie diere op te laai en na die munisipale skut te neem.
Macdonald deel ook dat mense ‘n hond neem vir beskerming en verstaan baie selde die troeteldier se behoeftes.
“Meestal word daar nie eens behoorlik na hulle omgesien nie. In ons veldwerk vind ons dikwels geen water nie of vuil water, baie min kos en skuiling, die troeteldier word verwaarloos met baie min beskerming en soms geen warmte in die koue wintermaande nie. Dit is te maklik om ‘n troeteldier te kry en nie behoorlik daarna om te sien nie.”




