Kennis en ondersteuning tydens diabetesdag in Velddrif

Na afloop van die spreker-sessies kon besoekers humoristiese fotos neem met foto-props.

Kennis en ondersteuning tydens diabetesdag in Velddrif


VELDDRIF – Inwoners van Velddrif en omliggende dorpe het Dinsdag 11 Augustus die geleentheid gekry om meer oor diabetes, die behandeling daarvan en ’n gesonde leefstyl te leer tydens die gratis Let’s Talk Diabetes-dag in die Velddrif-stadsaal.

Die geleentheid is deur Lurina Fourie van The Glucose Glitch gereël en moontlik gemaak deur Johan Moolman, Bergrivier-munisipaliteit se wyk 7-raadslid en plaaslike apteker, in samewerking met Laaiplek Spar Apteek en Life West Coast Privaat Hospitaal.

Moolman het die verrigtinge geopen en gesê diabetes is een van die grootste gesondheidsuitdagings van ons tyd. “Hierdie is die eerste van verskeie bewusmakingsveldtogte wat ons wil aanbied. Hoe meer mense ingelig is, hoe beter kan ons as gemeenskap die siekte voorkom, betyds herken en bestuur,” het hy gesê.

Verskeie kenners het onder meer die verskillende tipes diabetes, behandeling, voeding, medikasie, geestesgesondheid en leefstylkeuses bespreek.

Lurina Fourie wys van die #woorde wat sy tydens bewusmakings-sessies gebruik.
Lurina Fourie wys van die #woorde wat sy tydens bewusmakings-sessies gebruik.

Fourie is op 16-jarige ouderdom met tipe 1-diabetes gediagnoseer en leef al 26 jaar met die toestand. Sy het vertel dat sy aanvanklik gesukkel het om ander van haar diagnose te vertel weens die stigma rondom diabetes.

“Ek het aanvanklik gesukkel om mense van my diagnose te vertel omdat daar steeds ’n stigma rondom diabetes bestaan. Tydens die Covid-pandemie het ek besef hoe min mense werklik van die siekte verstaan en dit het my gemotiveer om The Glucose Glitch te begin.”

The Glucose Glitch bied praktiese programme aan om mense met diabetes en die breër publiek oor die toestand in te lig. Fourie is ook deel van #dedoc°, ’n internasionale netwerk wat mense met diabetes ondersteun en hulle beywer vir beter sorg en begrip.

Sy en haar man, Steyn, woon gereeld internasionale konferensies by en deel inligting met plaaslike gemeenskappe en skole.

Sr Buyelwa Majikela-Dlangamandla van Groote Schuur Hospitaal het verduidelik dat daar hoofsaaklik twee tipes diabetes is en dat dit belangrik is om die simptome vroeg te herken.

sr Buyelwa Majikela-Dlangamandla van Groote Schuur Hospitaal praat oor die gevare van te veel suiker.
Suster Buyelwa Majikela-Dlangamandla van Groote Schuur-hospitaal praat oor die gevare van te veel suiker.

Sy het gesê leefstylkeuses speel ’n belangrike rol in die voorkoming van tipe 2-diabetes en het mense aangemoedig om op hul suikerinname te let.

“’n Gewone blikkie koeldrank bevat groot hoeveelhede suiker. Coca-Cola bevat ongeveer een en ’n kwart teelepel suiker per 100 milliliter,” het sy verduidelik.

Gereelde oefening kan volgens haar ook die risiko van tipe 2-diabetes aansienlik verminder.

“Fisiese aktiwiteit is die beste medisyne wat niks kos nie,” het sy gesê.

Majikela-Dlangamandla het verder daarop gewys dat na raming sowat 80% van mense in Afrika wat met diabetes leef, nog nie gediagnoseer is nie. Sy het daarom die belangrikheid van gereelde gesondheidsondersoeke beklemtoon.

Nicolene Adams,Joey Josephs, Phumeza Myeki en Esethu Landule van Life West Coast Privaat Hospitaal.
Nicolene Adams,Joey Josephs, Phumeza Myeki en Esethu Landule van Life West Coast Privaat Hospitaal het gratis bloedsuiker- en bloeddruktoetse gedoen.

Besoekers kon gratis bloedsuiker- en bloeddruktoetse laat doen, met ’n diabetesopvoeder en ander gesondheidswerkers gesels en raad kry oor die bestuur van die toestand.

Nicolene Adams, Joey Josephs, Phumeza Myeki en Esethu Landule van Life West Coast Privaat Hospitaal het die gratis toetse gedoen.

Die organiseerders hoop dat soortgelyke inisiatiewe inwoners sal aanmoedig om hul gesondheid proaktief te bestuur en die stigma rondom diabetes te help verminder.

Lurina Fourie van The Glucose Glitch kan by 072 4188 781 gekontak word vir meer inligting oor toekomstige geleenthede.



NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 August 2026
    Weslander E-Edition – 13 August 2026

Gift this article