Die katte wat by Shipwreck versorg word, lê veilig en rustig bymekaar.

‘Net twee katte kan bly’


VELDDRIF – Diereliefhebbers het hul kommer uitgespreek oor die verwydering van ‘n “kolonie” katte by die Velddrif River Restaurant & Shipwreck Bar, ná ‘n berig op weslander.co.za.

Wetstoepassers het een van die katte op Donderdag 13 Augustus van die perseel verwyder.

Matthew Sheldon, ‘n woord­voerder van die Bergrivier-munisipaliteit, bevestig dat die munisipaliteit se wetstoepassings- afdeling die perseel betree en een kat met behulp van ‘n vanghok gevang het. Die kat is daarna na die Swartland-dierebeskermings­vereniging in Darling geneem.

Volgens Sheldon het die optrede gevolg op ‘n amptelike klagte oor ‘n groep van ongeveer 14 wilde katte wat gereeld in die omgewing van die restaurant gewaar word.

“Volgens die klagte wat ontvang is, beweeg die katte onder meer na die aangrensende restaurante toe wanneer kos aan klante bedien word en klim hulle soms op tafels, wat tot kommer en ‘n klagte gelei het,” sê Sheldon.

Hy benadruk dat die aangeleentheid nie nuut is nie en dat verskeie skriftelike waarskuwings die afgelope paar jaar aan die eienaars van Shipwreck uitgereik is.

Munisipale verordening

Varenke la Grange, die eienaar van Shipwreck, het intussen haar ontsteltenis uitgespreek. Sy versorg al geruime tyd die groep katte wat die perseel besoek, voorsien hulle van twee etes per dag en vars water en werk saam met Velddrif Animal Care om seker te maak dat hulle gesteriliseer word. La Grange sê dit was besonder moeilik om te sien hoe een van die katte verwyder word sonder om te weet wat met die dier sou gebeur.

Sy meen die optrede volg op ‘n enkele klagte en sê die meerderheid van die restaurant se besoekers het geen probleem met die katte nie.

Sommige mense besoek glo selfs die restaurant omdat hulle daarvan hou om die katte te sien.

Sy ontken ook dat die katte op tafels spring. Volgens haar word hulle weggejaag wanneer hulle naby mense by tafels kom.

Die munisipaliteit sê die optrede is ingevolge die Bergrivier-­munisipaliteit se verordening oor die Voorkoming van openbare oorlas en die Aanhou van diere van 2024 hanteer.

Hewige reaksie op facebook

Sheldon sê artikel 11 bepaal onder meer dat ‘n dier nie toegelaat mag word om met die gemak, gerief, vrede of rus van ander mense in te meng nie. Artikel 12 maak voorsiening vir munisipale optrede waar ‘n dier ‘n openbare oorlas veroorsaak.

Die munisipaliteit sê hy is ook verbaas oor La Grange se weergawe dat die katte versorg en gesteriliseer word.

Volgens Sheldon het die beskikbare inligting daarop gedui dat dit wilde katte is.

Indien La Grange aandui dat die katte deur haar aangehou of onder haar beheer is, kan artikel 15(1) volgens Sheldon ter sprake kom. Dié artikel bepaal dat niemand, sonder munisipale toestemming, meer as twee katte op ‘n perseel mag aanhou nie.

Varenka la Grange versorg die katte by Shipwreck, waar hulle daagliks kos en water kry.
Varenka la Grange versorg die katte by Shipwreck, waar hulle daagliks kos en water kry.

La Grange benadruk egter dat die katte nié aan haar behoort nie en dat sy bloot uit die goedheid van haar hart na hulle omsien.

Die verwydering van die enkele kat het intussen groot reaksie op Facebook ontlok, met talle mense wat hul steun vir die diere uitgespreek het.

In van die kommentaar sê ge­bruikers die katte doen niemand skade nie en help selfs om plae soos rotte onder beheer te hou.

La Grange is bekommerd oor wat met die oorblywende katte sal gebeur indien hulle ook verwyder word. Sy sê hulle kan nie maklik hervestig word nie en onsekerheid heers oor waarheen hulle geneem word en wat uiteindelik met hulle gaan gebeur.

Sy sê sy is intussen ingelig dat die kat wat gevang is, uitgesit is. Wat met die oorblywende katte gaan gebeur, bly ‘n ope vraag en ‘n bron van kommer vir La Grange.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 20 August 2026
    Weslander E-Edition – 20 August 2026

Gift this article