LANGEBAAN – Verskeie toekennings vir dapperheid en lang diens is op die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se jaarlikse toekenningsaand op Vrydag 14 Augustus by Club Mykonos oorhandig.

Travis Clack (goud), Francois du Randt (silwer), Jacoline Enslin (silwer), Riaan ­Rijnsbergen (silwer) en Cade Harris (brons) het erkenning vir dapperheid ontvang.

Ian Hamilton en Patrick van Eyssen is albei vir 55 jaar van betrokkenheid by die NSRI vereer, terwyl Keith Burchell en Andrew Ingram vir 45 jaar diens erkenning ontvang het.

Mark Bayly het die gesogte Marmion Marsh-toekenning ontvang en Oceana Group die Alric Simpson-toekenning. Clifford Ireland het die Verdienstelikheids- toekenning ontvang en David James is as Ere-lewensgoewerneur aangewys.

Die aand se hoogste eerbewyse het betrekking gehad op ‘n dramatiese ­reddingsoperasie by die Grootdraaidam in Mpumalanga op 29 Desember 2025.

Vier mans het in lewensgevaar verkeer nadat hul ski-boot se enjin onklaar geraak het en sterk wind die boot tot teen die damwal gewaai het. Die vinnig vloeiende water het gedreig om hulle oor die 40 meter hoë wal te spoel.

Die NSRI in Witbank het sy reddingsboot 140 km na die toneel gesleep, terwyl die departement van water en sanitasie die dam se sluise geopen het om die watervloei te verminder.

Riaan Rijnsbergen, wat die dam goed ken, het die NSRI-span, bestaande uit Clack, Du Randt en Enslin, ongeveer vier kilometer stroomop na die oorloop gelei en met die reddingspoging gehelp.

Verskeie toekennings vir dapperheid en langdiens is tydens die NSRI se toekenningsaand in Langebaan gedoen.
Verskeie toekennings vir dapperheid en langdiens is tydens die NSRI se toekenningsaand in Langebaan gedoen. Foto: Danie Hefers

Die vier mans, wat langer as vier uur in die water was, is uiteindelik veilig en ongedeerd aan wal gebring.

Clack is met die NSRI se goue medalje vir dapperheid vereer vir sy leierskap, deurslaggewende besluitneming en hantering van die reddingsboot onder uiters moeilike omstandighede.

Du Randt en Enslin het elk silwermedaljes ontvang vir hul kalmte, vaardigheid en professionaliteit tydens die hoërisiko-onttrekking. Rijnsbergen het ook ‘n silwermedalje ontvang nadat hy sy eie veiligheid in gevaar gestel het om die reddingspan te help.

Volgens Mike Vonk, die NSRI se uitvoerende hoof, was 2025 ‘n jaar van hernuwing en verandering.

NSRI se jaarlikse toekenningsaand in Langebaan.
Jonathan Velloza (NSRI-voorsitter), Ian Hamilton (langdienstoekenning), Patrick van Eyssen (langdienstoekenning) en Mike Vonk (NSRI se hoofuitvoerende beampte) by die NSRI se jaarlikse toekenningsaand in Langebaan verlede week. Foto: Danie Hefers

“Ons opvoedingsprogramme het byna 900 000 mense in nege provinsies bereik, terwyl meer as 25 000 oorlewingswemlesse aangebied is.”

Vonk sê die NSRI se reddingspanne het verlede jaar 1 069 reddingsoperasies uitgevoer, terwyl sowat 32 lewens deur die Pienk Reddingsboei-netwerk gered is. Die organisasie het in 2025 sowat R80 miljoen in kapitaalprojekte belê.

Volgens Jonathan Velloza, NSRI-voorsitter, vereer die toekennings buitengewone moed en ‘n lewenslange verbintenis.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 20 August 2026
    Weslander E-Edition – 20 August 2026

Gift this article