Geliefde Huis Wittekruin inwoner Johan van der Vyver laat ’n nalatenskap van liefde, geloof en lewensvreugde

Johan van der Vyver
Johan van der Vyver Foto: Betsi-Ann van der Vyver

Geliefde Huis Wittekruin inwoner Johan van der Vyver laat ’n nalatenskap van liefde, geloof en lewensvreugde


VREDENBURG – Frederik Johannes (Johan) van der Vyver, ’n geliefde inwoner van Huis Wittekruin-aftreeoord, is in die ouderdom van 79 jaar aan kanker oorlede. Hy laat ’n nalatenskap van liefde, nederigheid, geloof en kosbare herinneringe by sy familie, vriende en medeinwoners.

Vir sy dogter, Betsi-Ann van der Vyver, was haar pa haar eerste held, haar veilige hawe en die eerste man op wie sy verlief geraak het. “Pappa was een van daardie besonderse mense wat nie nodig gehad het om die hardste stem in ’n vertrek te hê om ’n blywende indruk te maak nie. Sy sagtheid, nederigheid en opregte belangstelling in ander mense het vanself gespreek,” vertel sy.

Johan, wat op 19 Junie 1947 gebore is, was volgens sy dogter ’n liefdevolle, geduldige en nederige mens met ’n besondere sin vir humor. Hy het mense met respek behandel, ongeag hul omstandighede of status, en sy geloof in God deur sy optrede teenoor ander uitgeleef.

Hy was ’n toegewyde eggenoot en pa vir Betsi-Ann en haar broer, André. Die liefde en respek wat hy teenoor sy vrou betoon het, was vir sy kinders ’n voorbeeld van ware liefde.

Van haar kosbaarste kinderherinneringe is die ure wat hulle saam gedans het. As klein dogtertjie het sy op haar pa se voete gestaan terwyl hulle saam gedans en na grammofoonplate geluister en gesing het. Sy onthou ook, met ’n glimlag, hoe hy haar op twaalfjarige ouderdom toegelaat het om te bestuur.

Dans was deur sy lewe een van Johan se grootste passies. Hy het die lewe geniet en was ook bekend vir sy liefde vir soetgoed. Volgens Betsi-Ann het sy hom nooit kwaad gesien of hoor kla nie, selfs nie wanneer hy siek was nie.

Liefde by Huis Wittekruin

Huis Wittekruin het ’n besondere plek in Johan se lewe ingeneem. Dit was nie net sy tuiste in sy latere jare nie, maar ook die plek waar hy weer liefde gevind het.

Dit was hier waar hy vir Adrie Kuys ontmoet het. Die twee het verlief geraak en hul verhouding het so diep gegroei dat hulle selfs beplan het om te trou. Adrie is egter oorlede voordat hulle hul huweliksplanne kon verwesenlik. “Om te sien hoe twee mense op so ’n mooi ouderdom weer liefde, geluk en kameraadskap in mekaar kon vind, was vir ons ’n groot geskenk,” sê Betsi-Ann.

Sy is dankbaar teenoor die personeel en medeinwoners van Huis Wittekruin wat deel van haar pa se lewe geword het en hom met liefde, geduld en waardigheid behandel het.

Personeel het ook aan haar vertel hoe gereeld Johan oor sy geliefde Ounooi gepraat het en hoe trots hy op haar was.

’n Nalantenskap van liefde

Vir Betsi-Ann was haar pa se grootste lewensles dat nederigheid en goedhartigheid tekens van innerlike krag is. Hy het haar geleer dat ’n mens nie ryk hoef te wees om baie te gee nie, want liefde, tyd, respek en vriendelikheid is van die waardevolste geskenke wat ’n mens kan bied.

“Ek hoop mense sal hom onthou vir die manier waarop hy hulle laat voel het. Vir sy sagte glimlag, sy humor, sy geloof en die liefde wat hy so vanselfsprekend uitgedeel het.”

Familie en vriende het op Maandag 26 Oktober by die NG Kerk in Langebaan byeengekom om Johan se lewe te vier en van hom afskeid te neem. Vir haar pa se afskeid het Betsi-Ann die woorde gekies: “Nou kan Pappa saam met Mamma en al die engele dans.”

Sy wil hom nie onthou vir die kanker wat sy lewe beëindig het nie, maar vir die mens wat hy was: ’n man met liefde in sy hart, ’n glimlag op sy gesig en musiek in sy siel.

“Dankie dat Pappa my eerste held was. Dankie vir elke herinnering, elke glimlag en elke oomblik waarin ek net jou dogtertjie kon wees. Ek sal Pappa vir die res van my lewe liefhê.”

Vir haar sal hy altyd haar Ounooi se trotse pa, haar eerste held en haar geliefde Daddy bly.

LEES OOK: Nuwe verpleeghoof bring 41 jaar se ervaring na Huis Wittekruin

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 November 2026
    Weslander E-Edition – 12 November 2026

Gift this article