Vir Betsi-Ann van der Vyver het die verlies van haar enigste kind ‘n lewenslange wond gelaat, maar ook ‘n nuwe doel gebring. Die Warrior Mama Foundation is uit haar eie ervaring van kindverlies gebore, met die doel om ander ouers by te staan wanneer hulle deur hul donkerste uur gaan.
Betsi-Ann se wêreld het op 13 Oktober 2016 onherroeplik verander toe haar 24-jarige seun, Jason, onverwags in sy slaap aan ‘n hartaanval oorlede is. Sy moes hom 12 dae later, op 25 Oktober, sy 25ste verjaarsdag, begrawe.
Jason was volgens sy ma van kleins af ‘n mens met ‘n besonder sagte hart.
“Jason was ‘n redder. Hy het van kleins af allerhande goggas gered en uit die swembad gehaal. Hy het ‘n groot hart gehad vir mense wat swaarkry,” vertel sy.
Vir Betsi-Ann was hy egter eenvoudig haar seun, haar Mamsiedoo, soos hy haar in die talle briefies wat hy vir haar geskryf het, genoem het.
“Vir my moederhart was hy net die mooiste seun met die diepste dimpels.”
Jason se pa is in ‘n motorongeluk oorlede toe Jason skaars drie jaar oud was. Die ma en seun het daarna ‘n besonder hegte band gehad.
“Ek is dankbaar vir God dat ek Jason kon grootmaak.”
Die ontstaan van Warrior Mama
Jason se dood het Betsi-Ann nie net emosioneel gebreek nie, maar haar ook met ‘n praktiese krisis gelaat. Sy was destyds in ‘n moeilike egskeiding en haar man het agt maande voor Jason se dood ál hul begrafnispolisse gekanselleer. Sy moes dus op sosiale media om hulp vra om haar seun se begrafnis te bekostig. Die gemeenskap het ingespring en haar gehelp.
‘You are our warrior mama’
Dit was gedurende hierdie traumatiese tyd dat ‘n vriendin haar gebel en gesê het: “You are our warrior mama.”
Die woorde het haar bygebly.
Byna tien jaar later het daardie woorde gestalte gekry in die Warrior Mama Foundation, wat in 2026 as ‘n organisasie sonder winsoogmerk geregistreer is.
Die organisasie wil ouers ondersteun in die onmiddellike tyd nadat ‘n kind sterf, wanneer rou en finansiële nood dikwels hand aan hand gaan. “Geen ouer behoort, terwyl hulle probeer begryp dat hul kind dood is, terselfdertyd te moet wonder waar die geld vandaan gaan kom om hul kind waardig huis toe te bring en te begrawe nie,” sê sy.
Haar grootste doel met die stigting is eenvoudig, om aan ouers die gemoedsrus te gee dat hulle op hul kind en hul rou kan fokus terwyl Warrior Mama help om die begrafnisreëlings te hanteer.
Jason se nalatenskap
Vir Betsi-Ann gaan Warrior Mama egter oor meer as praktiese hulp.
“Dit is my manier om hom terug te gee aan God en sy nalatenskap en liefde te laat voortleef.”
Die amptelike bekendstelling van die Warrior Mama Foundation is op 24 Oktober by Kleine Hopefield by Hopefield. Die datum dra vir Betsi-Ann besondere betekenis, aangesien dit die dag was waarop sy met Jason in kraam was. Sy sal ook by die geleentheid haar oorspronklike lied, “Warrior Mama”, bekendstel.
Vir Betsi-Ann is die boodskap van Warrior Mama kort en kragtig; ‘Steeds staande ná die verlies van ‘n kind. Nou ‘n steunpilaar vir dié wat ‘n kind verloor het.’





