Weskus vorm agtergrond vir jong filmmaker se post-apokaliptiese droom

Die Afrikaanse post-apokaliptiese kortfilm, Bruno, is in die Weskus vervaardig.
Die Afrikaanse post-apokaliptiese kortfilm, Bruno, is in die Weskus vervaardig.

Weskus vorm agtergrond vir jong filmmaker se post-apokaliptiese droom


HOPEFIELD | VREDENBURG – ’n Jong filmmaker wat op Langebaan grootgeword het, het sy liefde vir filmproduksie teruggebring na die Weskus met die verfilming van sy finale universiteitsprojek.

Hanu Botha (21) se Afrikaanse post-apokaliptiese kortfilm, Bruno, is van 6 tot 11 September op plase en privaateiendomme in die Hopefield- en Vredenburg-omgewing verfilm.

Vir Botha is die Weskus die agtergrond vir sy film, maar ook ’n belangrike deel van die verhaal agter die projek. “Ek het grootgeword op Langebaan. Ons het in 2009 soontoe getrek en ek het daar grootgeword. Die Weskus het nog altyd vir my ’n besondere aantrekkingskrag gehad,” sê hy.

Lede van die filmspan in aksie.
Lede van die filmspan in aksie. Hulle is (voor van links) Marius van Huyssteen, Darren Oelofse en Hanu Botha. Agter is Danny Livesey en Cora Johns.

Botha het in 2023 aan die Longacres-privaatskool gematrikuleer en studeer tans Filmproduksie aan die SAE Institute (School of Audio Engineering) in Kaapstad. Bruno is sy finale universiteitsprojek.

Sy pad na die filmbedryf het egter juis op die Weskus begin.

Terwyl hy nog op skool was, is ’n rolprent in Hopefield verfilm. Botha was toe net 13 jaar oud toe hy besluit het om, ondanks die feit dat die oudisie vir leerders tussen 15 en 18 jaar bedoel was, vir ’n rol in die film Griekwastad te probeer.

Leroy Thiart in 'n aksietoneel.
Leroy Thiart in ‘n aksietoneel.

Regisseur Jozua Malherbe het sy oudisie geniet en hom die rol van Snyman aangebied. “Dit was tydens die tydperk wat hulle in Hopefield geskiet het dat ek besef het watter fantastiese industrie die filmbedryf is. Ek het ook besef dit is eintlik ’n haalbare beroep,” sê Botha.

Dit was die ervaring wat hom laat besluit het om film te studeer.

Nou, jare later, keer hy terug na dieselfde gebied om sy eie film te maak.

Bruno vertel die verhaal van Henry, ’n jong man wat ná ’n tragiese voorval sy beste vriend verloor. Hy moet daarna emosionele en etiese uitdagings hanteer wanneer sy persoonlike verhouding met sy vriend bots met die werklikheid van ’n wrede, post-apokaliptiese wêreld.

Die oorspronklike idee vir die verhaal het volgens Botha reeds in sy matriekjaar ontstaan.

Hanu Botha (links) gesels met Christiaan Brand.
Hanu Botha (links) gesels met Christiaan Brand.

“Wat sou gebeur as jou beste vriend ’n zombie word?” was die vreemde vraag wat die konsep laat ontstaan het.

Botha het aanvanklik ’n tienbladsy-draaiboek geskryf met die bedoeling om Bruno as ’n klein passieprojek te verfilm. Die storie het egter oor die volgende anderhalf jaar uitgebrei en uiteindelik tot sowat 20 bladsye gegroei.

Hy is die skrywer en regisseur van Bruno en tree ook as vervaardiger op.

Die keuse om die film op die Weskus te verfilm, was volgens hom ’n natuurlike een. “Die Weskus en dele van die Swartland kan baie oop en onaangeraak voorkom. Dit pas baie goed by die post-apokaliptiese tema,” sê hy.

Die landskap, veral gedurende die kanolaseisoen in September, het ook ’n belangrike visuele rol gespeel.

Die produksie het onder meer by Kleine Hopefield en West-on-45 plaasgevind. Hoewel die meerderheid van die sowat 15-man-produksiespan van Kaapstad afkomstig is, is plaaslike inwoners ook by die projek betrek.

Leroy Thiart in 'n toneel uit Bruno.
Leroy Thiart in ‘n toneel uit Bruno.

Plaaslike talent is gebruik as agtergrond-ekstras en vir die dokumentering van die produksie agter die skerms. Op groter produksiedae het die span, ekstras ingesluit, uit sowat 20 mense bestaan.

Botha hoop Bruno sal uiteindelik by die Silwerskermfees vertoon word. Die film het volgens hom reeds erkenning by oorsese film- en skryfkompetisies ontvang.

Vir die jong filmmaker is die projek egter nie net ’n finale universiteitsopdrag nie. “Bruno het van ’n passieprojek na ’n monumentale projek vir my gegaan. My droom van kleins af was om ’n post-apokaliptiese film te skiet. Omdat dit ook my finale filmprojek is, sal Bruno altyd baie na aan my en my span se hart wees,” sê hy.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 17 September 2026
    Weslander E-Edition – 17 September 2026

Gift this article