‘n Eenvoudige vraag uit ‘n kleinkind se hart het Adri Booyse se lewe verander. Vandag gebruik die Vredenburgse skrywer haar Oumie Adri reeks om kinders op ‘n sagte en verstaanbare manier aan God se liefde bekend te stel.
Sommige boeke word geskryf omdat iemand ‘n storie wil vertel. Ander word geskryf omdat daar ‘n boodskap is wat eenvoudig nie stil kan bly nie.
Vir Adri Booyse van Vredenburg het haar skryfpad nie begin met die droom om ‘n skrywer te wees nie. Dit het begin met ‘n eenvoudige vraag uit die mond van ‘n kleinkind: “Oumie, wie is God?”
Daardie oomblik het haar hart geraak en uiteindelik die begin geword van die Oumie Adri reeks, waarvan die tweede boek, My Ouboet, Jesus, onlangs verskyn het.
Wanneer ‘n mens met Booyse gesels, raak dit gou duidelik dat die boeke nie oor haar gaan nie. Dit gaan oor haar liefde vir God en haar begeerte om kinders op ‘n eenvoudige manier aan Hom bekend te stel.
“Ek glo dat as jy jouself beskikbaar stel vir God, sal Hy jou gebruik. Hy stuur die regte mense oor jou pad om jou te help doen waarvoor Hy jou geroep het.”
Booyse, wat al 34 jaar met haar skoolliefde Phillip getroud is, beskryf haarself met dieselfde eenvoud waarmee sy skryf. Sy is ma van twee seuns, skoonma van twee skoondogters en ouma van vier kleinkinders wat haar lewe met vreugde vul.
Haar geloof vorm die kern van alles wat sy doen.
“Ek probeer elke dag leef soos Jesus. Ek kry dit nie altyd reg nie, maar ek weet Sy genade is elke môre nuut. Dit is waaraan ek vashou.”
Wanneer sy nie skryf nie, is sy betrokke by West Coast Vineyard Church, help sy haar man met ‘n bouprojek, geniet sy naaldwerk en besoek sy kleuterskole en kinderbedienings waar sy haar stories vir kinders voorlees. Die vier hoofkarakters in haar boekies is op haar eie kleinkinders gegrond, iets wat die stories nog nader aan haar hart maak.
Die inspirasie vir die reeks het ontstaan tydens besoeke aan haar oudste seun en sy gesin in Hongkong. Daar het sy besef dat baie jong kinders nie dieselfde geleenthede het om van God en die Bybel te leer nie.
Terwyl sy later by die huis gebid het, het ‘n boekmerk onverwags uit een van haar boeke geval. Die woorde daarop het gelui: You are a lover of words, you will write a book.
Vir Booyse was dit die antwoord waarna sy gesoek het.
Die eerste boek in die reeks, Wie is God?, het in 2025 verskyn. Die tweede boek bou daarop voort en help jong lesers om Jesus op ‘n eenvoudige en verstaanbare manier te leer ken.
Hoewel sy nooit formeel as skrywer opgelei is nie, glo sy haar roeping lê nie daarin om ingewikkelde geloofswaarhede te verduidelik nie, maar om dit so eenvoudig te vertel dat selfs ‘n klein kind dit kan verstaan.
“Ek wil nie die waarheid kleiner maak nie. Ek wil dit eenvoudig vertel sonder om iets van die krag daarvan weg te neem.”
Wat aanvanklik net vir haar eie kleinkinders bedoel was, het intussen ‘n veel groter bediening geword. Die eerste boek is reeds, benewens Afrikaans en Engels, ook in Frans, Duits en Kirundi vertaal vir uitreikwerk in Afrika.
Booyse is dankbaar vir die geleenthede wat reeds oor haar pad gekom het, onder meer die onlangse blootstelling in die tydskrif JUIG!, maar beklemtoon dat erkenning nooit haar doel was nie.
“Ek doen dit nie om bekend te word nie. As die boekies goed verkoop, beteken dit net daar is weer fondse vir die volgende boek.”
Vir haar is elke nuwe uitgawe nog ‘n geloofstap.
“Ek vertrou dat omdat Vader God gesê het ek moet dit doen, Hy sal voorsien vir alles wat nog voorlê.”
Wanneer sy nadink oor wat sy hoop lesers sal saamneem nadat die laaste bladsy gelees is, is haar antwoord eenvoudig.





